Gedigte/Resensies

Digbundels & resensies

laatnageilande – Marlise Joubert / Naledi 2023

Hierdie nuwe versameling gedigte is die bekroonde digter Marlise Joubert se elfde digbundel. Met hierdie gedigte bestendig Joubert haar reputasie as gerespekteerde digter, maar eweso as ’n belangrike bydraer tot “laatpoësie” – soos wat letterkundiges die subgenre van gedigte deur ’n ouer persoon beskryf. Ofskoon temas van veroudering sedert Joubert se veel bekroonde bundel, grondwater (2019), al hoe meer na vore dring, kom daar met die nuwe versameling ook heelwat ánder kwessies ter sprake. Sedert haar debuut in 1971 het Joubert haar gevestig as een van die vernaamste vrouedigters in Afrikaans. Sy is veral bekend vir haar sensuele, beeldende aanslag en huiwer nie om ongemaklike kwessies rondom vrouwees en die uitdagings wat haar in die gesig staar, aan te spreek nie; altyd eerlik, onverskrokke selfs, maar ten alle tye liries en ontroerend. In laatnageilande bou Joubert voort op hierdie temas met gedigte oor die vrou as argetipiese aardsmoeder, naas aangrypende persoonlike verse oor die vrou as huweliksmaat, moeder en ouma te midde van ’n bedreigende sosio-politieke realiteit. Ofskoon bekende temas uit haar vorige bundels weer in hierdie nuwe digbundel voorkom, is dit egter die ironiese en humoristiese wyse waarop Joubert byvoorbeeld die veroudering in haar nuwe gedigte betrek, wat laatnageilande ’n besonderse leeservaring maak. So ook die groot aantal liefdesverse en gedigte oor haar kinders, kleinkinders en troeteldiere. ’n Verdere hoogtepunt in die bundel is ook die aantal gedigte oor die digkuns self deur ’n digter wat haar tans in die volle krag van haar vakmanskap bevind.

Soos dit die geval is met haar vorige bundels sal hierdie nuwe gedigte die leser lank bybly.

Enkele resensies en onderhoude:

laatnageilande – Resensie deur Nini Bennett. Versindaba 2023

laatnageilande – Onderhoud op LitNet deur Nini Bennett, 2023

laatnageilande – Onderhoud met Murray la Vita. Die Burger, 2023

laatnageilande – Onderhoud met Marlies Taljard op Versindaba, 2023

laatnageilande – Resensie deur Neil Cochrane. Netwerk 24, 2023

irina se klavier

                        kiëf, oekraïne

op haar wit vleuelklavier
speel die vrou ’n allerlaaste
vertolking van chopin

terwyl die bomme buite
chaos en verwoesting saai
ook háár huis meteens
gestrand onder as en puin

al wat heel en regop staan
is dié klavier en vir oulaas
dans haar vingers nootvas
asof sy hoog bo ontploffings
van geweld en wonde kan styg

voordat sy vervaard moet vlug

die onbekende begrensing in
met ’n rugsak en haar kind

met hande stiller ineengevou
as troos om die melodie in
haar verstrooiing te onthou

(Uit: laatnageilande. marlise joubert. Naledi, 2023)

*

disteltyd – Marlise Joubert (Protea Boekhuis, 2021)

Met haar tiende bundel, disteltyd, neem die digter Marlise Joubert bestek op haar lewe; die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dit is gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.

DISTELTYD_omslag_V22

disteltyd – Resensie deur Marius Crous. Rapport, Mei, 2021

disteltyd – Resensie deur Stefan van Zyl. Versindaba, 2021

disteltyd – Resensie deur Johan Myburg. Die Burger, 20 Junie 2021

disteltyd – Resensie deur Nini Bennett. LitNet, Mei 2021

.

Grondwater sluit aan by die vorige bundels van die gevestigde digter Marlise Joubert, maar het ’n boustof wat getuig van ’n nuwe stel lewenservaringe wat dit laat affilieer by die groeiende tradisie in Afrikaanse laatwerk.

Dit is ’n bundel wat spreek van die spreker se terugblik op ’n leeftyd, haar jeugjare, die besef van eie sterflikheid, digmaak, sosio-politiese kwessies, kleinkinders en die ontginningsproses van die biologiese en psigologiese wortels van die self en die mens, van die impak van ouerfigure en veral van die gestorwe moeder. Die bundel is in 2020 bekroon met ATKV Poësieprys, asook die SALA prys vir Poësie.

.

OOR DIE OUTEUR

Marlise Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Sy het in haar leeftyd drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981), asook verskeie kortverhale in tydskrifte gepubliseer. Sy skryf verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Verder is sy die samesteller van In a burning sea, ‘n bloemlesing met 30 Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Haar bundel splinterverk word genomineer vir die SALA Poësieprys. Haar agste digbundel, bladspieël, verskyn in 2015 en word genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Sy skryf en skilder tans voltyds, en vertaal soms kinderboeke.

(Protea Boekhuis, 2019; R160.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-4853-1020-4, Formaat : 213 x 137 mm; Sagteband, 112 bls)

grondwater onderhoud

Grondwater – Resensie deur Marlies Taljard: Versindaba, 2019

Onderhoud oor Grondwater met Gisela Ullyatt. Maart, 2019

Onderhoud oor Grondwater op LitNet, 2019

Grondwater – Resensie deur Nini Bennett. LitNet, Febr. 2020

Grondwater – Artikel deur Marlies Taljard. Ruite in ‘n raam. LitNet, 2021

berg

.

waarheen dan nou

watter kant suid of noord

hoe ver vir ander grond terwyl

ek opkyk na die berg, o die berg

in wasemstilte vasgevang blou monnik

geanker in sy aard met riempieshande gevou

oor kontoere in sy skoot asof smekende:

verlos ons berge van die waternood

en alle ander node maar

.

sien jy my dan ook en hoe my oë

jou aai hoe ek jou in hart en long steeds hou

wat van mý want waarheen moet ek gaan

waar skadu’s gordel teen die songeskroei

waar is méér lig geiler ruimtes en

koestering watter kant suid of noord

hoe ver is so ’n reis vir ander grond

en berg hoe naby aan die ver

kant van die dood?

.

(Uit: grondwater. Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2019)

***

bladspieël – Marlise Joubert (Human & Rousseau, 2015)

Bladspieel_Marlise Joubert_

In bladspieël – die digter se agste digbundel – verken Marlise Joubert in ’n kenmerkend vloeiende styl temas soos verganklikheid en verval, onthou en verewiging, liefde en familieverhoudings, reise en maatskaplike bewuswording, digterskap en die skryfproses. Die digter is intens bewus van die  naderende dood, maar hierdie besef maak die belewenis van die lewe des te meer intens, die verlange om te blý leef des te meer dringend. bladspieël is ’n sensitiewe en sensories bewuste verkenning van die eie psige en belewenisse. Die vroulike ervaringswêreld is ’n belangrike voedingsbodem vir die bundel. Sensoriese gewaarwordinge, asook primordiale prikkels vanuit die onderbewussyn, word op ’n bedrewe wyse tot taal gemaak.

herfs

vandag staan die wolke skeef
druppende kerswas oor die land
ek wil dit nie verloor nie

in die tuin ’n geveg tussen vinke
verwers met kwaste en lere poleer
my mure met die kleur van sand

niks hiervan wil ek opgee nie

hoe laat is die groot verlaat
en sal jy later in jou eensaamheid
alle gedagtes oor ons liefde prysgee

vandag vlam bome herfs teen die berg
alle vensterrame staan oop in die lug
vir die vars vernis om droog te word

ek wil dit nie agterlaat nie

Resensies:

1. Resensie:  bladspieël deur Amanda Lourens (Versindaba, Junie 2015)

2. Resensie: bladspieël deur Tom Gouws (Die Burger, Beeld, Augustus 2015)

3. Resensie: bladspieël deur Philip John (Litnet, 21 Augustus 2015)

Onderhoud met Marlise Joubert oor bladspieël, deur Gisela Ullyatt.

***

 Splintervlerk – Marlise Joubert. Protea Boekhuis, 2011

splintervlerk. (Not for sale)

splintervlerk. (Not for sale)

Marlise Joubert se sewende digbundel handel oor siekte en herstel. In die eerste afdeling, “winterklou”,  word die beklemmende wêreld van die intensiewe sorgeenheid en hospitaalbed uit die perspektief van die pasiënt beskou. Die hulpeloosheid en uitgelewerdheid van iemand wat ‘n ernstige operasie moes ondergaan, neem op aangrypende wyse gestalte in die gedigte. Te midde van pyn bly sy bewus van skoonheid en die nabyheid van die geliefde. In die tweede afdeling, “rugkaatsing” word haar wêreld weer groter soos wat sy herstel; bring sy reise, besoeke en gesprekke in herinnering en tree die verskrikking van siekte en dood verder weg. Die derde afdeling, “dryfgoed”, is ‘n viering van lewe en kunstenaarskap. Die herstelproses word ‘n werklikheid soos wat sy weer begin skryf en skilder. Ander dinge, plekke en mense tree weer toe tot haar beleweniswêreld. Alhoewel die spreker bewus bly van haar kwesbaarheid en die verbygaan van die tyd, bevestig gewone dinge soos kos, wyn en blomme die waarde van die lewe en die liefde:

oudergewoonte

vanaand het ek lief omdat daar wyn is om te drink

vanaand kan ek liefhê omdat ons steeds alles

vir mekaar kan skink en langsaam wis hoeveel sagter

die reën en son in verouderde glase is

“Die spreker se instrument om heelmaking / digterwording daar te stel, is die digterlike woord.  Van meet af aan is hierdie bundel ‘n gestaltegewing van transformasie van die spreker. Met die motto van Thomas wat as roetewyser vir die verse dien, word die leser gekonfronteer met verskeie vorms van verwonding, maar wat in die intiem-liriese styl van die gedigte, uitreik na heelmaking en suiwering. […] Dis mineurpoësie – die ná-dreuning van die verse is eufonies – die liriese kwaliteit van splintervlerk is ‘n amulet teen die angel van  oudword, siekte en verval. Ten spyte van gebrokenheid is daar hoop in die gedigte verwoord. Die gedigtereekse is komposisionele bewys van konstruksie as kognitiewe gegewe om te probeer behou; te bestendig.” (Mathinus Beukes)

Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ‘n Boot in die woestyn en volg dit op met Domus (1973), So ver en verder (1976), Ontruiming (1986),  Lyfsange (2001) en passies en passasies (2007). Haar romans sluit in: Klipkus (1978), Oranje Meraai (1996) en Ateljee van glas (2004). Klipkus  het in Nederlands verskyn as Rode Granaat (1981).

Splintervlerk se verse sal tot almal spreek wat ‘n soortgelyke lot deurgemaak het, maar dit gee ook hoop in die nabyheid van geliefdes, bekende dinge en die skeppingsproses. (Protea Boekhuis, 2011, Prys: R140.00 (BTW ingesluit),  ISBN: 978-1-86919-472-7,  Sagteband,  96 pp.)

resensie 1 (Rapport, Boekenuus)        resensie 2 (LitNet)         resensie 3 (Versindaba) resensie 4 (Volksblad)       resensie 5 (Meandermagazine)

Onderhoud met Marlise Joubert oor Splintervlerk. (Versindaba.co.za)

Onderhoud op Meander met Sander de Vaan.

Gedigte uit: Splintervlerk

blomtong

vir MM

 

agter die diep leunstoel

staan die irisse sowaar na vier

steriele dae steeds in blom.

agter die glaspot se riffelpatroon

hang afgeknipte slagare los in die water.

agter pers vlinders bloei die trauma

van ’n week, nee, twee of drie tevore

toe purpertange my rug vasgeknyp het –

die kraakbeen voos soos ’n neut laat bars,

weefsel soos saffraan kon kneus

en oranje meeldrade van ’n vlegsel

senuwees laat knak.

agter die stoel,

onverpoos en vurig,

blom die tonge van irisse

voor die eende wakker word

voor die son die maan se sekel

en sterrespansel in perfekte ewewig

ligament op ligament

verkwis.

© Marlise Joubert. April 2011

(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011)

***

Passies en passasies – Marlise Joubert. Protea Boekhuis, 2007

passies en passasies

passies en passasies

Hierdie stewige en komplekse bundel van Marlise Joubert is verdeel in vier afdelings en handel in hooofsaak oor verskillende aspekte van die vrou. Dit bevat onder meer gedigte oor die lot van vroue, bekendes soos Frida Kahlo sowel as naamloses, gewone vroue wat brood breek, kinders voed, hulle mans na “bebloede paaie” stuur. Deur haar identifikasie met die lyding en miskenning van die vroue teken sy protes aan teen die posisie van vroue wêreldwyd, maar voel terselfdertyd bedreig deur die aansprake wat hulle op haar maak. Sy skryf ook oor die verhouding tussen mans en vroue, talle jeugliefdes word opgeroep en die lewe saam met die geliefde besing, maar daar is ook droefheid oor die verbygaan van die tyd. Een afdeling handel grootliks oor die verlange na ’n kind in die buiteland, maar besin ook oor die stilte en verinnerliking van die wintertyd.  Die laaste afdeling bevat inkantasies waarin ’n oerwêreld opgeroep word, vrese en bedreiginge besweer word, waarskuwingspreuke en prysliedere vir perde, die reën en ’n bruidegom. Merkwaardig van hierdie bundel is die omdigtings en verwerkings wat aansluit by die primitiewe en die minder bekende wêreld van die inheemse volke van die Amerikas, Asië, Afrika en Oseanië in die Afrikaanse poëtiese korpus intrek.  [Martjie Bosman, Protea Boekhuis]

Marlise Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ’n Boot in die woestyn en volg dit op met Domus (1973), So ver en verder (1976), Ontruiming (1986) en Lyfsange (2001). Romans: Klipkus (1978), Oranje Meraai (1996) en Ateljee van glas (2004). Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode Granaat (1981). Sy verower vier pryse in die Sanlam-radiodramaskryfkompetisie vir haar radiodramas. Sy is getroud en woon op Stellenbosch. [Inligting: Martjie Bosman, Protea Boekhuis]

R120,  Protea Boekhuis, 2007; ISBN: 978-1-86919-166-5; FORMAAT: 185×185  SAGTEBAND; AANTAL BLADSYE: 128

resensie1               resensie2                 resensie3          resensie4        translations 

Leketaal: ‘n bespreking van die gedig “waarskuwings“, deur Martjie Bosman.

Gedigte uit Passies en passasies.

Artikel: Die voortsetting van die Afrikaanse vroulike tradisie. Dr Amanda Lourens

Digstring: bespreking van ‘waarskuwings’ deur Marlise Joubert

Artikel (Met spesifieke verwysings na Marlise Joubert se bundel Passies en passasie):

Die uitbou van ’n eens marginale tradisie: Marlise Joubert se gebruik van vroulike taal Deur Amanda Lourens, Dept. Afrikaans & Nederlands, US. May 2018; Tydskrif vir Letterkunde 50(3):60-71

Onderhoude 

Meanderkrant: De Zuid-Afrikaanse schrijfster Marlise Joubert publiceerde tot dusver een half dozijn dichtbundels en drie romans, waarvan er een – Rode Granaat – ook in het Nederlands verscheen. Sander de Vaan had een mailgesprek met haar over schrijven, schilderen, en de toekomst van haar vaderland en de Afrikaanse ‘digtkunst’. Lees hier

LitNetJoan Hambidge in gesprek met Marlise Joubert oor haar jongste bundel Passies en Passasies

Gedigte uit: passies en passasies

Eva

daar is die vrou –
ek sien haar stap
gruispad langs versigtig met haar tagtigste jaar
sy val en breek haar been
sit daagliks tussen hulle wat vergeet
hulle wat die siekeboeg verfraai met lappiesdraai
met herhalende prewelings
wat vergeefs tromslaan teen ’n gipsgeheue

sy lees haar biografieë
die een oor Picasso en Lawrence en Callas
sy wag geduldig op eenkant etes
welwillende hande wat haar saans
van bad na bed toe rol

daar is die vrou wat die pad byster raak
haar identiteit en haar beursie verloor
haar man in haar verbeelding ontman
daar is die vrou wat met dronkverdriet haar grense
verskuif haar man verkul ’n opmars deur wyn en seks begin
die vrou wat haar hand op die stoof verbrand
en die een wat haar vinger sny met ’n groentemes
die een wat boetes kry vir woedende spoed
die een wat tronksit oor diefstal
haar trouring in ’n brander verloor
haar kind in die maling van ’n somerstad
vir altyd verloor

daar is die vrou wie se vorige lover haar enigste kind vermoor
en sy drie jaar later met borste wat steeds drup
die kind desperaat terug na die lewe wil voed

hoeveel vroue is daar wat was en wag
en weer was en wag asof dit al is wat droogtes pas
of geweld kan nekomdraai
hoeveel vroue spoel uit
in lakens van vergetelheid sterf vermink
in stralende bloed sterf in goiings van verdowing
in ’n graf uiteindelik glasiggeel
in ’n uitgesuigde korf van beendere

hoeveel vroue sterf onder versmorende mantels van die nag
en hoeveel van hulle is ek en nie ek nie

hoeveel van hulle versamel onstigtelik
smekend of skreeuend buite my huis
my omsingelde huis
tussen skulpture van wankelende bome
tussen mure van glas –

my enigste verweer teen die al hoe
dunner hekke van die tyd

—————————————-

in memoriam: Lisbé
That’s when she stopped, she turned her face to the wind, shut her eyes
– Jorie Graham, “Self-portrait as Apollo and Daphne”

dit was nie nodig dat staal haar skraal lyf moes verskeur
dit was nie nodig dat soveel geweld herhaaldelik
moes inhamer nie –
sy het reeds gegroet voordat sy die inferno van bloed betree
voordat die geskroefde hand van ’n indringer
haar in water gooi en vlug

sy het reeds afskeid geneem vóór die aankoms by haar huis
sy het reeds haar kinders voor skool gegroet
die kleur van die seun se hemp en die kleur
van sy wakende oog
reeds die skooljurk van haar dogter in dun
skouertjies teen verweer gestreel
reeds ’n tree agteruit in haarself beweeg
terug in die breekskelet van ’n droom
’n stem wat sou roep
duskant die aardse kleed van die oggendson

sy het reeds gesterf
toe sy haar man op ’n stasie groet
wat hom verder neem met niks behalwe
die gewig van herinnering
aan hulle
en háár veral
die geluk so naaldpuntdun gebalanseer
op elke horison wat teen die treinvenster glim
die berg wat nader groter word en met haar hart
in sy geheue so onverklaarbaar lig
soos asem op die tong kom lê

reeds was die afskeid daar
toe sy omdraai en huiswaarts keer
verdonker in die laaste stilte van rus
wat sonder woorde sonder tyding sonder enige vermoede
vóórtydig
die klein avondmaal
van haar liggaam
skrikwekkend deurboor

————

as winter brand
by die dood van Frida Kahlo, na die liriek
“Burn it blue” van Julia Taymor

brand hierdie huis
brand dit blou

as die winter haar huis binneval
verdrink sy in die brandende stroom
word alles afgestroop

en die brandende bed sweef hoër
en sy is vry om te vlieg

kom herinnering
kom doringtakke en blare van palms
kom onthou wat nie wil onthou nie

vrou wat uitgebrand is
sprei jou ongebreekte vlerke
vlieg vry soos die singende swaels

as die winter haar bloed bekruip
skakel sy vergeefs die verwarmers aan
waterval word rivier en stroom
gebroke tussen aangelapte ledemate deur
brand hierdie nag
swart en blou
neem alles met hom saam
so koud in die môre
so koud sonder jou
spoel vertroude kamers uiteen
met moeite aanmekaar geheg
spoel skilderye en meubels weg
weet dat daar niks meer staan
waar al die mure was

vlieg vry saam met die swaels
vlieg ineens met die wind

lê sy met belemmerde uitsig
en kyk na geboorte en lewe en dood
en die naglug bloei met vuur
en die brandende bed sweef hoër
sy is vry om te vlieg
om hemel en hel gloeiend te verf
geboorte en lewe en dood
verstommend onklaar
in die klaarheid van haar lyf

brand hierdie huis
brand dit blou

—————————

in die slaap
is daar baie verhale.
nie een van hulle is waar nie.

in die slaap word alle
verhale soos waarheid.
in die slaap is alles
soms soos glas.
stukkies dowwe
porselein uit jare gelede
van koppies reeds gebreek.

in die slaap
word koppies heel.
drink ons maklik deur die krake.
drink ons jare
vooruit.

————————————————

Ballade vir die minnaars
na ʼn voorbeeld van Yehuda Amichai

En ʼn man ontmoet ʼn vrou laat in sy lewe
Gehawend en dor soos die landerye
Weemoedig en wit soos die stiltes van siësta

En sy toon hom meteens haar honger mond
En sy toon hom meteens die skeure in haar hart
En sy gee hom al haar ure, verlate en verwond

En sy woon op die grond van haar skamel besittings
En die reën wat val begin daar in haar oë
En hy besluit om sag te wees

En sy ken die gesprek tussen tafeldoek en eetgerei
En die mes en die vurk van soveel jare
Maar langsaam neem hy die hef in die hand

En sy hare word lank soos verse, en sag, soos hare
En sy woorde ryg oor hare saam met stiltes en verlange
En vind gestalte in die uitroep van haar liggaam

En die vlamme van ʼn vuur flits oor hul gesigte
En hulle staan daar met hul rûe na die strak verlede
En hy besluit om sag te wees

En hulle stap die gloed van somers blindelings binne
En die woorde word meer soos ʼn vallei met vrugte
En die ongeduld van seisoene verander hulle in minnaars

En hy sal haar elke dag daarna by die tafel laat sit
En hy sal haar met nuwe disse en eetgerei verlei
En die ligte van kers met adagio’s en jazz vermeng

En hulle sal nog daar wees as die najaar verkrummel
En hulle sal daar wees as die tyd verlore raak
En hulle sal daar wees as linnedoek hulle skuifelend bedek

En sy sal die versugting van sy verse in die vlees toevou
En die mes en die vurk van jarelange saamwees
En hulle sal die woorde geniet wat brood geword het
Soos brood sal hulle mekaar bly eet en vermeerder
Want hy het besluit om sag te wees

————————————-

kliptaal

1

wat jy alles lees in rotsgravure
papier of klip stig vermeerdering
nie in jare nie, maar in gewig

nie die gewig van ’n liggaam nie
maar die gewig van geskiedenis

met volumes groei ek dieper in jou in
daarsonder kan ek nie asemhaal nie

2

in die slaap se kliptaal woon
ek in die aarde en bou ’n huis
met al die woorde wat jy lees

sny dan die aar van ’n rivier in twee
om te word soos ons is
om te word soos ons moet word

toe ek opstaan het ek onthou
dat woorde ook niks meer
kan onthou as net die woorde nie

maar jou praat wat klink na klip
wat rol en als wat lewe meesleep ook
is die wakker word van die erf

en jou stem asem soos iets
in die gewig van liefde of miskien
in die berg se vou

en altyd verknog aan blou

——————————————-

ons stroom
nou in ’n laer versnelling
alles skuur stadiger verby
jou bors is sagter in kontoer
die bekken voller arms wyer
teen al jou aflope
vlei ek aan

*

die ure word kleiner
lywe en passie ontheg
jy krimp weer weg
sluier van mis
kom waai oor die berg

*

hulle neem nou afskeid
al jou woorde wat vers
en ritme hou
hulle loop nou saggies
in sandale buitentoe
ek hoor die gruispad
skuifel in my oor

*

jy dis die Sondag vir ons op:
Di Stefano en pasta carbonara
’n vingertjie spek ’n neusie sampioen
en jou mond is gewyn vir
die onversadigde soen

——————————————–

waarskuwings

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los
ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels
kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer
in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku
teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang
want hulle blink verniet
ek moet jou waarsku
teen die maan se mistige oog
die son se roomwang teen jou gesig
ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer
met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai
ek moet jou waarsku
teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug
teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos
teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad
ek moet jou waarsku
teen my kissie van roospapier
waarin al my juwele is die krabbers die hangers
en die ringe van topaas

ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie
minder as woorde minder as water minder as brood
want die liefde het net oë vir mekaar
liefde is sonder bril in mekaar
liefde is oë vasgewaai inmekaar

liefde is sonder alles omheen
liefde is ’n dennewoud
liefde is ’n beurende dennewoud
waar die boskapper
onverpoos kap

ek moet jou waarsku

——————————————-

sleursang 4

’n pryslied vir die bruidegom
op die struktuur van “Die beskrywings van koning Lent”
deur Francois Rabelais

sy tone is die klawers van klavier
sy toonnaels knoffelhuisies
sy voete is tamboere
sy voetsole simbale
sy bene is lang snare
sy knieë is klaprose
sy dye jakkalsdou

sy heupe is soos gladde werpskywe
sy maag soos ’n pampoenkoekie
sy naeltjie is ’n druiwekorrel
sy geslag ’n dobbelsteen
sy testikels is konyne in ’n somerpaleis
sy boude ronde opslaantente
sy stuitjie is ’n karavaan
sy rug ’n dolfyn
sy werwels ’n trappehuis
sy ribbes is soos silwervissies
sy skouers is kamaste vol ysterklip
sy tepels twee klein slaapmussies
sy oksels ’n welige pietersieliebos
sy arms soos sekels
sy gewrigte is vuurhoutjievarings
sy elmboë klawerjas
sy hande goue harpe
sy nek ‘n viool
sy keel ’n fluit
sy adamsappel ’n tamboeryn
sy baard is kruienaeltjies
sy ken ’n lantern
sy ore is wintersokkies
sy neus ’n dubbelster
sy wenkbroue drywende valskerms
sy oë is skuite vol lig
sy voorkop ’n wapperende vlag
sy slape is soos maste van brokaat
sy wange bekers vrugtesap
sy kakebeen ’n seiljag
sy tande soos uitroeptekens in die sneeu
sy tong is ’n akkedis
sy mond ’n bloedlemoen
sy kop is ’n byekorf
sy vel is katoenfluweel
sy hare soos bokhaar

as hy lag was dit soos ’n klokkespel
as hy huil was dit voetpaadjies van reën teen die ruit
as hy bewe was dit blou blitse in die lug
as hy sweet was dit oesters op jou tong
as hy vloek was dit ’n handgranaat
as hy nies was dit ’n loskruitpatroon
as hy hoes was dit roffelvuur op die horison
as hy gaap was dit ’n sleutelgat in ’n jonkmanskas
as hy sug was dit die snaar van ’n tjello wat spring
as hy snork was dit koffiebone in ’n meul
as hy frons was dit kreukels in satyn
as hy praat was dit kapokblomme in die wind
as hy oogknip was dit ’n somerbesie
as hy mompel was dit dwarrels in sand
as hy loop was dit swaelstertmanelle oor die see
as hy sing was dit wafels met room
as hy rook was dit vuurvliegies in die donker
as hy skryf was dit wilde eende oor ‘n meandermeer
as hy droom was dit sterre in ’n ysterpot

as hy bemin word sy tong ’n lui akkedis
as hy bemin word sy skedel ’n vlam okkerneut

as hy bemin word sy hare bloeisels van bokhaar
word sy mond duisendmaal
’n bloedlemoen

as hy bemin

—————————————

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*