Resensie: bladspieël (Marlise Joubert). Resensent: Tom Gouws.

bladspieël

marlise joubert

Human & Rousseau

Resensent: Tom Gouws (Die Burger & Beeld, Aug. 2015)

omslag

Op 17 Desember vanjaar word Marlise Joubert 70. Met die verloop van jare het hierdie veelsydige kunstenaar ‘n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak – veral as digter, maar ook as romansier, radiodramaturg, rubriekskrywer, vertaler van kinderboeke en ‘n jeugroman, samesteller van ‘n belangrike versamelbundel asook webwerfmeester van Versindaba, ‘n kollektiewe weblog vir die Afrikaanse digkuns. Daarbenewens is sy ook bekend as gerekende skilder.

Met die dood van T.T. Cloete op ‘n rype 91 in hierdie tyd wil mens kwalik Joubert se nuwe digbundel op 70 kategoriseer as “laatwerk”, maar tog staan die teks onteenseglik in die tematiese gety van dié twyfelagtige taksering. Die bundel sou gehaak kon word aan hierdie twee versreëls in die hart van die bundel: “om hoopvol aan te hou leef / verby die einde van ’n lewensloop”. Soos vorige digbundeltitels dit voorop gestel het, soek die digter immer na ‘n aanlandplek So ver en verder, ‘n domus wat ontruiming kan besweer, verruim en die verganklike mens onloënbaar en sinryk kan laat aanland.

Hierdie omvangryke agtste digbundel van Joubert bied ‘n poëtiese verslagdoening van hierdie verduursame proses van verinnerliking. Deurentyd gee die digterlike ek beslag aan hierdie proses wat Nijhoff “omzetting” genoem het, ‘n poging om die kosbare maar vervlietende ruimte buite en wat dit bied te transponeer na ‘n onbegrensde en ewige ruimte wat in jou gestalte kry. Niks van die lieflike sintuiglike wêreld gaan dus ooit verlore nie, en hierdie poësie word amper ‘n teëhanger vir Heidegger se konsep van “writing under erasure”. Marlise Joubert probeer, soos Ezra Pound, een van die belangrike saamloopdigters in haar oeuvre, “to record the precise instant when a thing outward and objective transforms itself, or darts into a thing inward and subjective”. Die innerlike struktuur van die gedig word ‘n ryk herinneringtranskripsie van die dimensies van die geleefde wêreld.

Die vindingryke bundeltitel is ‘n stemvurk van dié proses. ‘n Bladspieël is die bedrukte vlak op die bladsy van ’n boek, maar hier word dit metafories verruim om die proses van transponering van buiteruimte na binneruimte te vergestalt. Die belewenis (ook van die onderbewuste) word die bladspieël in die omtreklose wieg van teks. Dit word mooi ikonies geïllustreer deur die voor- en agterplat, ‘n skildery van Joubert, wat lyk na die negatief van ‘n foto, wasige vaag-herkenbare skimgestaltes wat uiteindelik bladspieël word van ‘n ander getransponeerde werklikheid, die gedigte, of dan, soos Breytenbach dit êrens genoem het: “die spieëlse bewussyn”. Die onsigbare en onsêbare het ‘n distinktiewe bladspieël, en dit is die gedig! Hier, soos ons by Plato geleer het, is vorme eintlik die ware realiteit.

Maar moet nie dink dat hierdie verse moeisaam dra aan sulke swaartillende filosofiese en literêr-teoretiese ballas nie, bepaald nie! Die poësie is oënskynlik eenvoudig, maar bepaald helder soos diep water, gestroop en toeganklik, heerlik liries, met ‘n meesterlike vermoë tot metaforisering, dié hartklop van die ware digkuns. Dit is suiwer, onpretensieuse poësie wat die leser meesleur, dikwels mesmeraais, jou die fynskrif van die katalogus van die skeppende verbeelding wíl laat lees.  Hierdie is nie net blote digterlike herinneringsreise nie, maar die sensuele gestaltegewing van geheue as ‘n poëtiese denkinstrument, gebrandskilderde lugspieëlings in woorde.

‘n Merkwaardige kwaliteit van die digbundel is die volhoubaarheid van die outentieke digterlike stem. Die liriese aanslag blý bekoor in ‘n lewende stroom van 65 onstuitbare gedigte wat deur die bundel beur. Dit is weliswaar die vloeibaarheid van alledaagse ervarings wat woordgestalte kry vér verby “my klein alombedreigde / woordbestaan”. Geen bundelafdelings en weinig punte keer die dwingende vloei en pulsering van lewe.

Die teoretici Linda en Michael Hutcheon het dié raak opmerking oor laatwerk gemaak: “with age comes late style, which one does not grow out of but rather dies into”. Die bewuswees van mortaliteit is egter in hierdie teks geen swartgallige afskeid nie, maar ‘n geleentheid om ‘n boot in die woestyn te vind en in die spieëls van vorige (lewens)reise, die weerkaatsings van vorige ervarings, die vergesigte van verse te vind.

Hierdie allerheerlike digbundel van Marlise Joubert kan as laatwerk getipeer word in die verwagting wat Edward W. Said daaroor het: ’n lewe van iemand wat onbevange leer om te lewe, die gekristalliseerde wysheid wat van daardie ervaringe ‘n geskryfde lewe van geskakeerde ervaringe gemaak het, en “the sadness that comes from wisdom and a mastery of craft that has nothing left to prove”.

Met hierdie uitsonderlike digbundel bied Marlise Joubert aan die Afrikaanse letterkunde ‘n kosbare en ryk onthoubare skat wat met die verloop van baie, baie jare sal meespreek met die beste liriese digters in Afrikaans.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*