Resensies: passies en passasies

17/11/2007 08:49 – Rapport (SA)
Boeke: Twee suksesse uit een aromatiese huis
Marius Crous

 

Passies en passasies deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis, 2007, R120

 

passies en passasies

Die spreker in een van die gedigte in hierdie besonderse digbundel van Marlise Joubert sê “woorde moet aroma wek, glo ek steeds” (bl. 37). En dis presies wat hier gebeur. Daar is die geur van koffie; daar is rooi, oranje en geel. Die musiek van Pergolesi, Chopin, Schubert en Beethoven, die operas wat Mimi Coertse sing; en jy hoor die treurige klank van Chavala Vargas en Lila Downs op die klankbaan van Frida. Of jy ontdek die Mazatec-Indiane se prysliedere. Daar is Eva, Dora Maar, Mary Campbell, ’n vallende vrou van tagtig en ’n vrou op pad na Kandahar. Of die meisie van dertig plus wat “met die swaar lyf / soos ’n bottel konfyt” wat so “deksels alleen” is (bl. 31).Teen hierdie geil agtergrond situeer Marlise Joubert, wat in 1971 met ’n Boot in die woestyn gedebuteer het, haar sewende digbundel. Ná die lees hiervan besef ek opnuut sy’s beslis ’n onderskatte digter. Hierdie is ’n bundel oor die vrou, die lot van die vrou en die vrou as nasaat van Eva wat saam met haar beminde leef in ’n huis met woorde en musiek. Inderdaad temas eiesoortig aan die feministiese literatuur, maar Joubert hanteer dit sonder om skellerig te klink.Die bundel word verdeel in vier afdelings: “Die omsingelde huis”, “Passies”, “Winterbriewe “e.a. en “Sleursange”. Soos die motto by die eerste afdeling suggereer, het ons in die openingsafdeling (trouens, deurgaans in die bundel) te make met ’n kunstenares wat in haar huis droom. In die belangrike sleutelgedig “Eva” (bl. 13) word ook verwys na verskeie generasies vroue wat om die spreker se omsingelde huis beweeg. In teenstelling hiermee word die huis in “droogvoets” (bl. 55) die ingeperkte domein van die vrou, waar die man haar “stoor” en haar “(vasgom) op ’n kil blokkiesvloerbed”. In dié deel word ook die aangrypende lykdig vir die vermoorde akademikus Lisbé Smuts aangetref (bl. 18) en “as winter brand” (bl. 22), wat geïnspireer is deur Frida Kahlo.Die tweede afdeling, “Passies”, sluit by die titel van die bundel aan en handel oor die liefde, bl. 53 se kampusliefde (vir die “bliksemse Volvo-man met bliksemblou oë”) en die samesyn met die beminde, byvoorbeeld op Melkbosstrand. Soos reeds bekend uit Joubert se roman Ateljee van glas (Protea Boekhuis, 2003) speel die poësie van Yehuda Amichai weer ’n belangrike rol en dien as inspirasie. Daar word ook van hom afskeid geneem en hy word vrede toegewens waar hy hom bevind “tussen hemel en tale” (bl. 76).In die derde afdeling, “Winterbriewe e.a.”, word, soos die titel suggereer, veral geskryf oor die winterlandskap en die emosionele kaalte wat dikwels daarmee gepaardgaan. Daar word selfs versug dat dié seisoen nie die beste tyd is vir skryf nie, maar dit word ondermyn deur ’n besonderse wintervers met sy truie, sy stewels en “elke woord (wat) pyn soos sneeu op die tong” (bl. 101). Dit is in hierdie afdeling wat ook getreur word oor die afwesige kind in die vreemde, waar “gargoyles van vermaar-de / Oxford-kolleges” (bl. 94) moet waak oor die slapende kind.In die erkennings agterin word genoem dat die sleursange van “Sleursange”, die vierde afdeling, verwerkings is van spirituele sange van oral oor. Ek had eweneens plesier aan die tweede sleursang wat die vroue op Sarawak sing sodat hulle van hul hunkering na ’n man kan vergeet (bl. 122). Opvallend is die struktuur van dié gedigte met hul inkanterende herhalings en evokatiewe beeldspraak.Soos die bundeltitel aantoon, het ons hier met die passies van die vrou vir die man, vir wyn, vir woorde en vir kleure te make, maar ons het ook passasies oor ander se ervaring en verse oor deurgange na die Anderwêreld. Dis die wedervaringe (bl. 28) van iemand wat “naatloos teen haar beminde vas (draai)” om “saam met hom / in die koepel van arms / ’n vont (te word)”. Dit is egter ook ’n skeppende vrou wat die stoepe skoonmaak, besorg is oor die veiligheid van haar gesin, vir hulle geskenke koop – of ’n vlatert maak.Maar adem liefs selfs die aroma van die woorde in, want ’n resensie kannie al die kleure en geure vrystel nie. Dit is ’n bundel wat jy met al jou sintuie wil lees, waardeer – en herlees.Marlise Joubert en Protea het vir ’n uitsonderlike bundel hier teen die jaareinde gesorg.* Marius Crous is ’n digter en taalpraktisyn.

———————————————

Sterk vroulike stem van rypheid en insig in welkome digbundel
      Heilna du Plooy

      Passies en passasies deur Marlise Joubert. Protea (sagteband, 100 pp.),
      R100
.
      Die geheelindruk wat hierdie bundel op my gemaak het, is dié van
      vroulikheid, nie feministies nie, nie “feminien” in die sin van blommerig
      en week nie, geen spesifieke soort vroulikheid nie, maar ’n omvattende en
      inklusiewe vroulikheid wat vroulike belewenis en ervaring op verskillende
      vlakke en vanuit verskillende hoeke verken.

      Die leser kry te make met ’n sterk vroulike stem, ’n stem van rypheid en
      insig, ’n stem wat kan praat in direkte skerp terme, wat probleme en
      ellende kan oopdek, maar wat ook deernis en liefde verwoord.
      Die digter put uit ’n groot verskeidenheid bronne en gebruik verskillende
      style om hierdie omvattende blik op die lewenswerklikheid van ’n vrou en
      van vroue in haar verse tot uiting te laat kom.

      Die bundel is in vier afdelings ingedeel. In die eerste afdeling, “die
      omsingelde huis”, gaan dit oor wat moeilik en problematies is in vroue se
      lewens. Hierdie vroue en hulle omstandighede maak aanspraak op die digter,
      hulle “versamel onstigtelik/ smekend of skreeuend buite my huis/ my
      omsingelde huis”. Die digter praat namens hierdie vroue wat soms nie self
      ’n stem het nie, maar sy interpreteer ook hulle lewens of aspekte van
      hulle lewens, al gaan dit net om ’n momentele waarneming van ’n foto of ’n
      skildery of ’n gedig van ’n ander digter. Die digteres vra haarself af wat
      dit is “wat my verbeelding /op die tong wyd en wyer laat proe?’ Hoewel ’n
      mens byvoorbeeld die skilderye wat in die reeks “portrette van vroue” as
      intertekste gebruik word kan nagaan om die gesprek tussen gedig en
      skildery te analiseer, gaan dit myns insiens eerder om die digter se
      interpretasie van die objek van ’n ander kunswerk, of oor haar
      interpretasie van die vroulike posisie as sodanig teenoor die gegewe
      interpretasie van die vrou wat in die skildery uitgebeeld word. Dit is
      trouens ’n eienskap van hierdie bundel dat daar ingeskryf word teen of in
      gesprek getree word met ander tekste, onder meer die rolprent Tous les
      matins du monde, maar deurgaans word die interteks slegs as ’n vertrekpunt
      gebruik vir ’n nuwe stelling.

      In die tweede afdeling, “passies”, gaan dit om verskillende mansfigure in
      die verlede en hede van die digter. Die mooie en goeie sowel as die
      problematiese aspekte van verhoudinge met mans word ontgin en die
      indringende aard van die soeke na insig en balans, na dit waarop dit
      werklik aankom, het my getref.

      Ek sou amper wou praat van ’n ondersoek na die moontlikhede van die
      restourasie van die verhouding tussen die geslagte, ’n saak wat in die
      kontemporêre literatuur en debatte byna uitsluitend tot die negatiewe
      beperk geraak het. Daar is mooi verse oor ’n oupa en die vader, verskeie
      gedigte oor vroeë geliefdes en verliefdhede, oor ’n huweliksmaat met wie
      die verhouding skeefloop en dan ’n hele aantal baie mooi verse vir die
      “beleë bruidegom” wat “skade skete skuld en al/ wat haar sonder omhaal
      inkatrol/ en onversoet verslind”.

      Joubert het reeds in vorige bundels haar vermoë getoon om die subtiliteite
      van erotiese spanning te verwoord en hier doen sy dit weer met aangrypende
      liefdesverse, soms speels, soms bloed-ernstig, maar deurgaans oortuigend.
      In hierdie afdeling is daar ook weer die gebruik van intertekste in vrye
      vertalings van die werk van ander digters (erken en aangedui), maar ook
      die slim ontginning van Bybelse teksgedeeltes soos in “by waters waar vis
      is”. Terloops, die Ou Testamentiese verwysings en gedrae, hoogliedagtige
      trant van die verse sluit goed aan by die toonaard van die werk van die
      Hebreeuse digter Yehuda Amichai aan wie se invloed sy erkenning gee.
      Die afdeling “winterbriewe e.a.” bevat stemmingsverse oor geleenthede en
      mense wat die digter na aan die hart lê. Daar is wel ’n oorwegend elegiese
      toon in die verse, maar dit gaan eerder om die innige herinneringe aan
      gesprekke met ander digters, aan ’n kind, aan kosbare momente as om
      hartseer op sigself. Daar word dikwels gebruik gemaak van metafore uit die
      natuur en musiek, wat miskien tog ietwat koesterend oorkom.
      Die titel van die slotafdeling is “sleursange”, ’n nuutskepping van
      Joubert wat hopelik algemene inslag sal vind. Die verse is dan ook
      liedagtige liefdesverse wat deur inkantasies en herhalings ’n byna
      beswerende karakter vertoon en wat tot ’n hoogtepunt kom in die “pryslied
      vir die bruidegom”.

      As ’n mens hierdie bundel in sy geheel in een sitting deurlees, kan die
      woordrykheid en die intense metaforiek ’n bietjie swaar word, maar as elke
      gedig in sy eie reg en in sy afdeling beskou word, is dit goeie en
      vindingryke verse. Tematies sowel as tegnies is daar variasie in die
      eksperimente met versvorme en strukture en ritmies en klankmatig is die
      verse goed afgerond. Hierdie bundel is ’n toevoeging van gehalte tot
      Joubert se oeuvre.
      Prof. Du Plooy is van die Universiteit van Noordwes.
    
     ———————————————

Jan 21 2008 08:38:26:257AM  – (SA) Die Volksblad

Psige se reis tot individuasie

Joan Hambidge – Resensent

PASSIES EN PASSASIES, Marlise Joubert, Protea Boekhuis, R120

Marlise Joubert het in 1971 gedebuteer met ’n Boot in die woestyn. Hierna was daar vyf digbundels en drie romans en volgens Hans Ester, nou onlangs in ’n akademiese essay, is sy ’n onderskatte digter in Afrikaans. Vir my persoonlik is haar eiesoortig-liriese aanslag nie mis te kyk nie en veral in haar roman Klipkus, ’n gedurfde lesbiese roman vir haar tyd, ontgin sy op eg- vroulike wyse die gevoelens van vrouwees. In haar jongste digbundel Passies en passasies word hierdie mosaïek- of borduur-tematiek beskryf.

Die bundel tree (onbewustelik) in gesprek met Agaat se inleiding en die Sanskrit oftewel die Oosterse simbool op die buiteblad dui op die heelheid of individuasie wat in die psige plaasgevind het.Die bundel wil – aldus die agterblad – die lot van vrouwees ondersoek en spreuke, asook sange, wil hierdie elementale wêreld onder die loep neem.Dit is ’n intens vroulike bundel wat soos ’n weefwerk lees. Daar is verwysings na Anne Carson en Anne Michaels – twee digters wat uit Kanada geland het in ’n ander vrouebundel en wat ’n plagiaat-dispuut tot gevolg gehad het – met volledige erkenning agter in die bundel. Daar is ’n herdigting van Yehuda Amichai en Peruviaanse liedere, om enkele tekste te noem. Die volledige landskap van vrouwees word geskilder: jong meisie tot versmade vrou wat uiteindelik geluk en vervulling vind. Dit is eg-vroulik en ’n pendant vir die woedende verse van Antjie Krog. Die sluimerende gevaar in Marlise Joubert se poësie – altans vir hierdie leser – is dat dit soms te fraai klink. Waarskynlik omdat haar onbewuste so beeldryk is en sy maklik beelde skep, mis verse soms beeldkongruensie en raak verse swoel in aanbod. Dat sy wel klank goed ontgin, word duideliker wanneer ’n mens die verse hardop voorlees. Daar staan uitstekende verse in hierdie bundel – soos die hartrukkende lykdig oor Lisbé Smuts, ’n vermoorde kollega en feminis – wat ’n mens laat nadink oor Ester se opmerking dat Joubert nie na waarde geskat word nie. Dit is intens-vroulik in aanbod en hierom sal die gedigte waarskynlik nie in die manlike smaak val nie. Dit gee ’n lewensreis weer en uiters intieme belydenisse (soos ontmaagding en liefdesverraad) word onthul. Daar is ’n brief aan ’n dogter; ’n gedig vir ’n seun wanneer hy sy biologiese vader verloor. ’n Gesprek met die minnaar en hul seksuele band.

Die digkuns van Erica Jong kom in die herinnering en die verwyt wat Anne Sexton – veral deur manlike kritici – gemaak het dat sy te openlik en oop dig. Daar was selfs ’n versoek dat die pyn en onthullings eerder tussen aanhalingstekens geplaas moes word. Die bekende Medicine Woman-tarotstel wat skerp fokus op die anima van die vrou en haar tot genesing wil bring, sou ’n relevante teoretiese aanvulling kon wees.Dis ’n besondere lywige bundel (127 bladsye) met ’n handvol ontroerende verse. Dit is ’n bestek-opname van ’n digterlike lewe, ’n soort terugpraat met haar eie werk en ’n ywerige navorser en

kenner van haar verse sal kan sien hoe sy terugstap, herdink, heroorweeg. Die mandala op die voorblad dui op die genesing en heling wat plaasgevind het (“inventaris van goeie en slegte drome om vroue te genees wat verlang na afwesige bemindes” (bl. 122 is so ’n voorbeeld).Peruviaanse en Mexikaanse wyshede word hier ingeweef. Dit is eg-feminiene gedigte – nie net omdat die digter ’n vrou is nie, maar omdat hier intens gekyk word na vroulike kwessies. Gedigte het myns insiens ’n gender apart van die digter se geslag.Joubert verken die intens-vroulike ruimtes, dit wat Julia Kristeva as die chora (baarmoeder) van taal beskryf het.Sy gaan dikwels terug in ’n ruimte wat buite taal lê, maar sy vind telkens versoening en heling in haar gedigte. Byvoorbeeld, “tussen dooies is daar vrede / En gryswit stiltes in albasterkruik” dig sy in sjalom, Amichai (bl. 76). Hier maak sy dan ook vrede met pyn, ontnugtering, verliese. Hierdie bundel dra passies soos in hartstog en passasies soos in oorgange van een fase na ’n ander.

—————————————————–

Passies en passasies.Marlise Joubert. Pretoria: Protea Boekhuis. 128pp. ISBN 978-1-86919-166-5.  

 B.J. Odendaal

Lyfsange (2001), die bundel waarmee Marlise Joubert na ’n digterlike swye van byna 15 jaar weer van haar laat hoor het, het ’n hoogtepunt in haar bydrae tot die Afrikaanse liefdespoësie verteenwoordig. Met passies en passasies, haar sesde bundel, wat in ’n aantreklike uitgawe in 2007 by Protea Boekhuis verskyn het, versterk sy hierdie bydrae verder, en verruim dit om ook op ander tematiese terreine iets wesenliks toe te voeg tot die Afrikaanse digkunsskat.Blykens die bundel- en afdelingsmotto’s is dit ’n spesifiek vroulike ervaring wat vooropgestel word.Die passies van die bundeltitel slaan op die rykdom van haar liefdes: vir haar man en ander geliefdes; vir die Waterberg-kontrei waarin sy grootgeword het, asook vir die Boland waar sy tans woon; vir taal; vir die kunste; vir die baie alledaagse dinge wat die sinne verruk. Die passasies-deel sinjaleer enersyds die ryke intertekstuele spel (met filosofiese, literêre, musikale, skilderkunstige en ander werke, maar ook met literêre vorme soos die ballade, die slaapliedjie, die brief, die pryslied, ensovoorts) wat in die bundel gevoer word – byvoorbeeld in die talle vrye vertalings, verwerkings en voortdigtings op verse en liedere van diverse oorspronge wat voorkom. Op die vlak van die artistieke bemoeienis oorvleuel bogenoemde twee tematiese onderskeidingsvelde dus; ’n raakvlak wat ook al deur die alliterasieverband tussen die twee titelnaamwoorde aangedui word. Trouens, so intens is die inspeling vanuit die verskillende artistieke velde (veral wat metafore uit die musiekwêreld betref) dat ’n mens hier en daar vir stilistiese verestetiseerdheid vrees. Vergelyk die volgende passasie uit die sewende vers van die reeks “voordragte e.a. sange”, met as gedigtitel “soos al die oggende …”:ons leef in ringe van jare met basviole met tjello’s en fluite leef ons uit elke seisoenasem ons al die oggende van die wêreld in[.] Maar die tweede titeldeel roep (via die betekenismoontlikheid van “oortog” of “reis” wat passasie verder het) ook die teendeel van die dikwels ekstatiese belewenisse op: die bewustheid van verganklikheid en verval. Om hierdie rede dat, hoewel soveel beskrywe staan wat van lewenslus en -genot spreek, die bundel tog ’n sterk elegiese toonaard openbaar. Passie en sterflikheid staan bipolêr verbind. Soos die slot van die eerste van die reeds vermelde “voordragte e.a. sange” lui:     

      as die nagreis kom    

      dans jy die passasies van liefde       

      dans jy teen die droefnis in. 

Die sangerigheid, oftewel die liedaard van baie van die meermaals langerige verse in hierdie bundel, dra ongetwyfeld tot die elegiese ‘klank’ daarvan by. ’n Reeks van vier “sleursange” besluit byvoorbeeld die bundel. In die eerste bundelafdeling, getiteld “die omsingelde huis”, word waarnemings en belewings verwoord van vroue wat deur verskillende dinge as ’t ware beleër word: deur die blik van die (manlike) kunstenaar; deur haar afslowende dagtake as moeder en vrou; deur geweld, dood en wanhoop; deur modieuse sienings van die rol van die hedendaagse vrou; ensovoorts. Sekere gedigte hier bied ook ’n onthullende, ontluisterende selfblik deur die subjek. In die sestiendelige “snitte uit ’n oggend”, gebou op basis van die klankbaan van die kunsfilm Tous les matins du monde (”al die oggende in die wêreld”), word byvoorbeeld op boeiend poëtiese wyse verslag gedoen van ’n kunstenares (Joubert is ’n kunskilder) se vroegoggendervarings. Via die musiek wat sy beluister en dit wat sy tussendeur sintuiglik ervaar, asook deur wat sy lees, onthou, oor nadink en haar verbeel terwyl sy haar was, voed en klee, stroom groter wêrelde haar persoonlike bestaan binne – totdat die laserskyf ontnugterend deurgespeel het en sy haar dagtaaklysie aflees “soos ’n voetspoor vir die dag”. Iets wat my aan die raai het in dié reeks, is dat daar wel ’n voorlaaste gedigtitel voorkom (“15. Muzettes 1-11”) – maar dan sonder enige gedigteks. Het dit iewers langs die pad na persklaarmaking verlore geraak? Het die digter nie iets gehad om onder hierdie titel (wat, soos die ander titels, verwys na ’n musieksnit op die laserskyf wat die klankbaan van die betrokke film bevat) te skryf nie? Hoekom dan die betrokke titel enigsins in die gedigreeks opneem?

Die tweede bundelafdeling (“passies”) bevat hoofsaaklik (Hoogliedagtige) huweliksgedigte, meermale geïnspireer deur werk van die Joodse digter Yehuda Amichai, maar ook verse oor ander geliefde mans in die digteres se lewe (haar oupa en pa, ander minnaars, ’n vorige eggenoot). Soms doen dié pragtige liefdesverse simbolisties aan in hulle klank-, kleur- en beeldweelde, en oorstyg hulle die verstandelik-logiese. Slegs hier en daar word die beeldeenheid myns insiens as gevolg van hierdie weelde ietwat troebel. Vergelyk die volgende uit die gedig “droogvoets” (ten spyte daarvan dat die katedraal-, wynvat- en rivierbeelde vroeër in die gedig aangevoor word):     

   […]  en om hulle vir ewig katedraal en dig te hou   

   verkies hy selibaat te wees die allure         

   van ’n huwelik slegs teen mure uitgeklok:        

   alle seisoene ’n geraamde portret      

   totdat sy alles herskommel         

   kind vat   

   huis vat    

   mank       

  uit die vate rol      

  om ook hierdie rivier met sy geheiligde sand       

  droogvoets oor te steek[.]

 Afdeling III (“winterbriewe e.a.”) bevat klaag- en verlangverse oor en na vriende, kinders en mededigters, en handel telkens oor afskeid, skeiding, ontbering, vergetelheid of verganklikheid. Eensydig somber is dié gedigte egter nie. Lees maar hoe die digteres die draak steek met haar werk as boekhouer! (Soos voorheen vermeld, was Joubert betrokke by die bedryf van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch; sy help ook met die reëlings rondom die Versindaba wat jaarliks aldaar plaasvind.) Ek haal ’n strofe of drie uit die gedig “een plus een …’ ter illustrasie aan:

[…]niks te sê nie.

maar ek luister na Chopin. 

 ja, dit doen ek wel met my boekhouerkop –

sy nokturnes minuskule kwiltstekies

wat fakture en kwotasies netjies inklavier

wat my dag se payouts so perfek laat klop. 

o luister na die ligtekasregisters van Chopin! 

Die slotafdeling, “sleursange” (verkeerdelik “III” genommer!), bevat weer eens hoofsaaklik liefdesgedigte, maar nou in meer opvallend liedagtige gedaante. Dié afdelingstitel (’n nuutskepping deur Joubert) roep iets van die aard van sakrale (psalmodiese) sange op, en dui op die huldiging van die liefde of op die beswering van die liefdesbedreigende magte wat in hierdie gedigte verwoord staan. [P]assies en passasies is ongetwyfeld Joubert se uitmuntendste digterlike prestasie  tot dusver. Dis ’n omvangryke bundel wat talle en talle pragtige gedigte bevat. Anders as in haar vorige bundels, is slegs hier en daar (miskien) ’n valse woordkeuse of ’n beeldtroebelheid aan te stip. Sy verwerf myns insiens hiermee ’n aansienlike statuur as ’n Afrikaanse digter van meer as net mooi liefdesverse. 

[Hierdie resensie is met vergunning van Tydskrif vir letterkunde. Verskyn in Tvl 45.2): Opmerkings oor die Versindaba en vyf nuwe bundels uit Protea Boekhuis, [deur] B.J. Odendaal, Verskyn in Tvl 45.2 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*