Resensie: Lyfsange

Lyfsange

Marlise Joubert 

Lyfsange

Marlise Joubert is nie ’n onbekende in poësiekringe nie, maar haar stem het verander; gewen aan resonansie, aan rypheid en gulheid – nie net tematies nie, maar beslis ook verstegnies gesproke. Hier is meer as die verbreking van die stilte deur ’n vroeëre (sewentiger-) stem, meer as die liriese snykant agter ’n Oranje Meraai aan die woord. [Lyfsange, Protea Boekhuis, 2001, 64 pp,  ISBN  1-919825-30-4,    R49.95] 

 

 

 
 

 

 Resensie   [Rapport 5 Augustus 2001]

Lyfsange wat die liefde besing

WIUM VAN ZYL LYFSANGE; Marlise Joubert; Protea-Boekehuis; R49,95.

 

Om “zo lichamelijk mogelijk gedichten (te) schrijven” is een van die vernuwings van Lucebert, prins van die Nederlandse vyftigers. Só stip die digter-kritikus Paul Rodenko indertyd aan. Hoewel hy met liggaamlikheid nie net “lyf” bedoel het nie, dui hy tog ‘n naelstring aan wat ook Marlise Joubert se nuwe bundel Lyfsange voed. Al is dit miskien via Afrikaans se eie vyftiger-sestiger, Breyten Breytenbach, wat reeds in sy debuut ‘n “buik” laat “kloek vol wyn” en ‘n “ek uitgeswel van lyf” aan die woord stel. Nie dat Lyfsange ‘n siniese blik op die liggaam bied nie. Die enigste volledige lyfgedig is trouens die knap “bedding”, ‘n beskrywing van die vroulike skaamhaar wat (terwyl sy in die bad lê) vir die minnaar kan voel soos “ ‘n dahlia/ of nee, ‘n speldekussingblom/ ‘n angelier/ die vlampunt van ‘n protea/ miskien ‘n bougainvillea?”. Om ná die afdroog (iets te eksplisiet) te verander tot “ ‘n donker bedding kompos/ gelykgehark/ en reg vir dieper spit”. Die bundel is ‘n besinging van die liefde oor drie afdelings en in verskillende nuanses. Lyfsang I bevat besinnende gedigte oor die lewe, die “vrou van die nuwe millennium”, die Karoo, ‘n brief vir ‘n student wat “try” om die lewe te bemeester, ‘n gestorwe hond, die vader en die moeder. Lyfsang II daarteenoor bring die “jy”, die geliefde, na vore. Lyfsang III neem die verhouding verder. Terwyl die “ek” teenoor die student in 1 die volgehoue afskeid van die lewe beklemtoon (“ek try ook maar net”), word nou onder meer die verwondering van ‘n nuwe jeugdigheid verwoord. Vergelyk onder meer die gedig “dis onbegryplik”: nee, dis mos godsonmoontlik dat my lyf so spuls kan dans met onbekende klanke asof ek nou eers jonk en geil die waters van die sinne asem teruggryp na die swamdonker na eerste kennis van die mond en tóg Een van Joubert se sterk punte was nog altyd haar verrassende beeldspraak. Dit geld ook hierdie bundel. In die sjarmante klein liefdesiklus in briefvorm voel die skrywende haar “waansinnig/ meer beswymend: seebamboes/ tussen son en water deur”. In “inventaris van intieme verliese” word die bed soos ‘n tafel ge-“dek” waarby die “ek”  “die kussings weer tot brode skud”. Dit word ondersteun deur ‘n aantal opvallende nuutskeppings soos die geliefde wat “bladwisselend stuimel” of beskik oor ‘n “smulse mond”. Nie al die beelde is ewe vars nie, soos die bome in die Karooveld wat argaïes “omsoom” word deur “ure”. Lomp taalgebruik glip ook deur soos in die verwysing na  “die ou historiese huis” in  “tuindrome”. Is daar historiese huise wat nie oud is nie? ‘n Belangrike tegniek van Joubert is die oënskynlik losse opstapeling van beelde en gegewens. Dit skep op sy beste ‘n sterk poëtiese spanning en verrassings, soos in die reeks volkskwatryne waarmee die gedig “tong van die vrou” opgebou word. Dié digvorm se derde en vierde reëls swaai immers soos Van Wyk Louw uitgewys het heeltemal weg van die eerste twee. Vergelyk maar die mengsel van humor en verlange wat só saamgegooi word in strofe 5:

Die tong is in die kies

o die tong is in die kies

vir verlang het ek nie lus

want dis erger as verlies

Terwyl laasgenoemde gedig vrolik saamgetrek word deur die herhaling van die openingstrofe in die slot, raak die sprong van beeld tot beeld in verskeie ander verse egter net te sonder binding. Die openingsreëls van “saans as die son” met die verwysing na “fluite” sowel as “moer” ten opsigte van die nagwordproses, kom digby botsende beeldspraak. Dat die digter ook wel metaforiese spanning en kontraswerking uitstekend

kan hanteer, is duidelik. In onder meer die knap gedig oor die “vrou van die nuwe millennium” (“die vrou loop in die strate”) is dit teenstellings wat die spanning volhou. Haar  “oë droom van vreemde reise na ‘n paradys” terwyl dit terselfdertyd “die boosdoener/ die bomme die kaper die verkragter” vrees, “maar haar mond bly die vreugde/ van ‘n bloeiende kastaiingboom”. Hierdie kragte word nie opgehef nie, en bly huiwer in die slotreëls:

die vrou loop in die strate

en die wind vat vlam in haar hare

 

——————————————-

One Response to Resensie: Lyfsange

  1. Diana says:

    My naam is Diana, ek het ‘n dogter in Graad 11 en sal graag meer inligting oor die gedig Pa wil hê, aangesien dit een van hul voorgeskrewe gedigte is. Sal waardeer as u my kan help. Groete

    Ps. Jou gedigte is stunning

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*