Resensies: Ateljee van glas (roman)

Ateljee van glas

Ateljee van glas is Marlise Joubert se derde roman en haar mees poëtiese prosawerk tot op datum. In wese handel hierdie roman oor die verwantskap tussen geheue en identiteit en hoe uitgelewer ons staan teenoor eksploitasie wanneer ons sin vir identiteit ondermyn word. Afgesien van Camille / Milla se soeke na identiteit binne haar verhouding met die beeldhouer, Ruben, is dit ook haar speurtog om Mignon, die dogter met wie sy kontak verloor het, op te spoor, wat die leser aangryp. Vele teenpole word deur Marlise Joubert in hierdie roman aangedurf: die van kunstenaar teenoor model, moeder teenoor dogter, geheue teenoor werklikheid, fantasie teenoor realiteit, Afrika teenoor Europa en ten slotte, ook poësie teenoor prosa. Dit is juis die liriese taalgebruik met die sterk visuele ingesteldheid wat die leser sal bybly nog lank nadat die roman klaar gelees is. Met skerp waarnemings, introspeksie en teoretiese beskouinge rondom kunstenaarskap, lewer Marlise Joubert ‘n beduidende verruiming tot haar oeuvre.Van Joubert het reeds 2 ander romans verskyn, nl. Klipkus (1978) en Oranje Meraai (1996),  asook vyf digbundels. Protea Boekhuis, R89.95]

 Resensies

[Boekeblad Volksblad 6 Desember 2004]

Kyk dieper as die oppervlak

Roman bekyk identiteit en die kontoere van ‘n mens

Resensie deur H.P. van Coller

 ATELJEE VAN GLAS deur Marlise Joubert Protea – boekhuis, R89,95

MARLISE JOUBERT is ‘n bekende skrywer van wie reeds vyf digbundels en twee romans gepubliseer is. Daarnaas het sy ook haar hand met sukses gewaag aan vertalings en hoorspele. Haar werk is dikwels sterk visueel, assosiatief en gelaai met erotiek. Dit is ook die geval met haar jongste werk, Ateljee van glas, wat vroeër vanjaar verskyn het.

Die storie wat sentraal staan in hierdie roman is heel eenvoudig. ‘n Vrou, Milla, met twee mislukte huwelike waaruit twee kinders gebore is agter haar, verloor haar werk. Later beland sy in die see en word bewusteloos aangetref deur Ruben, ‘n beeldhouer. Omdat sy aan geheueverlies ly, neem hy haar onder sy sorg en sy bly bykans twee jaar by hom sonder dat dit ooit by die polisie aangemeld word. Nie net gebruik hy haar gedurende hierdie tydperk as sy model nie; hy raak op haar verlief én sy vervul die rol van sy muse. Flarde herinneringe kwel haar, asook die obsessiewe, besitlike liefde van Ruben. Daarom loop sy uiteindelik weg.By hierdie primêre storie is daar ook die verhaallyn van haar eie dogter en haar ontwikkelende verhouding met ‘n dramaturg wat ‘n vriend is van Ruben. Alles ‘n bietjie toevallig en amper bygesleep. Daarom is dit van meet af aan duidelik dat die storie nie belangrik is nie, maar dit wat daar agter lê.In die komplekse verhouding tussen Ruben en Milla is daar enersyds sprake van bevryding, maar andersyds ook van besitname. Dit het raakpunte met die skeppingsproseswaar ‘n engel uit die klip losgewring word (bevryding), maar waar amorfe stof ook deur slyping en inperking tot kuns omgeskep word (inperking). Nie verniet nie praat die Russiese Formaliste van die poësie as “georganiseerde geweld”. In hierdie verhouding voel Milla aanvanklik dat sy die beeld is wat Ruben skep. Daarteenoor is sy sy inspirasie wat hom as ‘t ware beheer. So raak dit duidelik dat hierdie roman vol sit met poëtikale uitsprake omtrent die (wisselende) verhouding tussen kunstenaar en kunswerk; trouens ook oor die vervloeiing van albei. As primêre verwysing geld die verhouding tussen Rodin en sy minnares, Claudel, (die naam wat Ruben ook gee aan Milla) wat hom ook verlaat het. Twee vertelprosesse loop gelyktydig in dié roman: Die hede wat begin met die huwelik van die hoofkarakter Milla met Ruben, en verder ook ‘n retrospektiewe onthulling van haar ongeluk en tweejarige verhouding met Ruben. Haar huweliksgeskenk is die omdigtings wat Ruben vir haar vertaal het en waarvan daar ‘n hele paar ook in die teks opgeneem word. Hieruit leer sy hom ken omdat die kunsobjek ook iets van die kunstenaar verklap. In die teks word daar dikwels gesuggereer dat ‘n mens moet leer om dieper te kyk as die oppervlak .So lê in die titel ‘n veelheid betekenisse opgesluit. Glas is die transmutasie (dus suiwering) van sand, soos die geheue dit is ten opsigte van die verlede en die kunswerk dit is ten aansien van die materie. Glas kom voort uit die smeltkroes, soos kuns uit lyding, en moet dikwels geslyp word tot perfeksie. Binne Ruben se ateljee van glas word ‘n beeld geboetseer, maar ook ‘n identiteit. Glas is egter ook die breekbare bokaal, soos die geheue beskrywe word, ‘n ruit waardeur jy kyk. Dit is derhalwe beeld van afstand, skeiding en verskansing. Jy moet daar deur breek om jou eie verlede te begryp. Omdat daar tussen haar en haar geliefde geen glas is nie (bl. 129) sal hul verhouding gelukkig wees.Maar in wese gaan dit ook in dié roman oor die soeke na identiteit en wat die kontoere van ‘n mens bepaal.Milla onthou ‘n gelukkige jeug, ‘n speelmaat, Noyise, met wie sy ‘n idilliese verhouding gehad het, en later ‘n tydperk van onvervuldheid en ongelukkigheid. Maar ook ‘n kind, Mignon. Die verwysings na Noyise betrek ook die Afrika-motief wat plek-plek ietwat geforseerd aandoen. Die glaskrale wat Noyise jare terug aan haar geskenk het, is ‘n amulet, beeld van volkomenheid én van die vermoë om jou eie kralesnoere te ryg (bl. 34); deur selfontdekking te groei tot selfinsig.Literêre kritici verskil soms oor die kwessie van “vroulike” of “manlike” tekste. Marlise Joubert se teks is na my gevoel ‘n voorbeeld van ‘n vroulike teks. Nie net is dit siklies opgebou juis om in die in sig self beslotenheid ‘n wordingsproses uit te druk nie. Dit bevat ‘n veelheid van beskrywings soos kontoere, holtes, rondings, sirkels, golwings, kurwes (kyk bv. bl. 15) wat almal vroulikheid én heelheid suggereer. Al sou die storietjie dun wees, bevat die teks genoeg om te boei. Joubert se beskrywings in die retrospektiewe gedeeltes is veral assosiatief, beeldend en poëties. Boonop is daar genoeg pragtige beeldryke passasies, sensitiewe beskrywings van wat byna beskrywe kan word as “die liefdesdaad” en word heelwat van die omdigtings van die Hebreeuse digter Yehuda Amichai (wat Ruben vir Milla gee as huweliksgeskenk) in die teks opgeneem. Dikwels hoogstaande poësie wat ‘n resonansie van die Hooglied opvang.

H.P. van Coller, hoof van die departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van die Vrystaat

 *

[BOEKEBLAD [Die Burger] 8 Maart 2004]

Soos ‘n deurskynende houer vol glinsterende krale

resensie deur  MARINA LE ROUX

ATELJEE VAN GLAS, deur Marlise Joubert. Protea Boekehuis, Pretoria, 2003. (Slapband, 161 bladsye, ISBN 1 86919 049 1, R89,95.)

DIÉ strydvraag weer: wie is verleier/ die kunstenaar of sy model?/ Of gaan dit om ‘n wisselspel: / van hitte albei ‘n geleier? (Hennie Aucamp, Hittegolf, Deur sy teleskoop).

Ruben, ‘n beeldhouer, sien hoe ‘n fratsgolf ‘n vrou op ‘n skerp rotspunt neerslaan. Hy jaag met haar hospitaal toe, waar sy weke lank met amnesia in ‘n koma lê. Ruben neem die vrou na sy huis, na sy ateljee van glas. Hy skep vir haar ‘n nuwe identiteit, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe naam: Camille, sy model en sy beminde. Maar belemmerde verledes, Ruben s’n sowel as dié van Camille, speel in op die hede en word in terugflitse gerekonstrueer. Terugreise wat in ‘n koue stilte begin, eindig positief met ‘n geheue van die son. Dit, kru afgeknot, is die verhaalgegewe van Joubert se derde roman ná Klipkus (1978) en Oranje Meraai (1996). Daarby het sy reeds vyf digbundels gepubliseer, die bekendste miskien Lyfsange (2001), wat tegelyk verskyn met Opslagsomer, deur haar man , Louis Esterhuizen. Hoewel Ateljee van glas dikwels in gesprek tree met albei bogenoemde digbundels, veral in die verwysings na en omdigtings van die werk van Jehuda Amichai, sal dit onregverdig wees om ‘n gebreklike vergroeiing of ‘n parasitiese ondermyning van tekste te suggereer.Daarvoor is Ateljee van glas te selfstandig, verrassend en eiesinnig. Dit is minder wydlopig en episodies as Oranje Meraai, kompakter, gedronge en spannend. Selfs die ontknopings van die verskillende verhaalstringe van Ruben, Benard die dramaturg, en Camille en haar kinders, verhinder nie ‘n doelgerigte en volgehoue strewe na kohesie nie. Joubert het, enkele insinkings ter syde, haar karakters en stof ferm onder beheer. Soms, maar werklik net soms, word die intrige omfloers deur uitgesponne, kwasi-filosofiese gesprekke en selfkoesterende interne monoloë.Joubert se gebruik van ‘n verskeidenheid van intertekste is besonder interessant: van Amichai, Frida Kahlo en Bartho Smit tot by Roland Holst: “Laten wij zacht zijn voor elkander, kind . . . “Aansluitend hierby is die alter ego’s van die karakters hoofaaklik uit die leefwêeld van die Franse beeldhouer Auguste Rodin: Ruben — Rodin, Milla -Camille, Eva — Eve Fairfax. Intertekstualiteit en interreferensie word egter nooit ‘n étalage vir die skrywer se erudisie nie. Dit is geïntegreer met die tema en maak ‘n onafskeidelike deel uit van teksverdigting en -verryking. Agter die ateljee se mure van glas flikker ook ander tekse wat ontsyfer moet word. En om so ‘n teks te lees, sê Terry Eagleton, “is like counting the beads on a necklace” — ‘n besonder gepaste vergelyking vir dié roman waarin so dikwels met ‘n krale-motief gespeel word.In Ateljee van glas word deurlopend besin oor die aard en wese van kuns, veral in Ruben se dilemma van moraliteit teenoor amoraliteit, van etiek teenoor estetiek en erotiek. Daar word bespiegel oor presentasie en representasie, skepping en herskepping, oor die verhouding tussen kunstenaar en kunsskepping en telkens oor die magies-religieuse transformasies in kuns. In die toepassing van die Pigmalion-mite vermy Joubert gelukkig die geykte en verromantiseerde weergawe en wend haar tot die klassieke voorbeeld van die groot meester Ovidius, Boek 10: 243 — 297. Daarom dat die metamorfoses in die komplekse verhouding tussen Ruben en Milla die leser oortuig.Die woning, die ateljee van glas, as beliggaming van die minnaars, skakel met Joubert se vroeë digbundel Domus (1973), ook met Lyfsange en ondersteun die veelduidige romantitel. In aansluiting hierby is die deurlopende, weliswaar soms oorwerkte, motief van krale: die kraal as oerwoning van Afrika, die sirkelsimbool van oneindigheid en individuasie. En krale, gevorm uit aardstof en getransformeer tot glas, vir die draer daarvan ‘n versiering, ‘n boodskap en ‘n amulet teen boosheid en bederf — die oorspronklike betekenis van “bead” is immers gebed.

Ateljee van glas het die onweerstaanbare allure van ‘n deurskynende houer vol glinsterende krale. Dit is ‘n roman vir die sinne, ingeklee in liriese, beeldryke taal, soms miskien selfs oorversier en oordadig. Die roman verenig die beeldhou-, skilder- en skryfkuns op ‘n innoverende wyse en die meelewende leser word verwelkom in ‘n ateljee van glas, “die glansateljee van melk en heuning”.

*

 

Die Beeld    28/06/200415:47  – (SA)

Op poëtiese vlak veel te put uit ‘Ateljee van glas’
Gretel Wybenga

‘Ateljee van glas’ deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis (sagteband, 163 pp.), R89,95.ISBN 1-86919-049-1
‘Hemel, ons het ‘n vreemde liefdesverhaal, weet jy. Niemand sal ons tog glo nie’ ” (bl. 105) sê Milla aan haar minnaar, Ruben. Ná ‘n valongeluk het hy haar bewusteloos tussen die seerotse opgetel en vir twee jaar, waarin sy aan geheueverlies ly, ongerapporteerd versorg. In dié tyd gebruik Ruben haar as model vir sy beeldhouwerk en raak obsessief op haar verlief. Só besitlik is hy dat sy voel hy vervreem haar van haarself en “steel haar idees, haar gedagtes, haar hart en lyf” (bl. 155). Op ‘n dag trek sy haar tekkies en sy jas aan en vat die pad, maar nie vir altyd nie . . . Na uiterlik klink dit voorwaar na die onwaarskynlike intrige van ‘n ligte liefdesverhaal, waarin feit alte dikwels op fiksie lyk. Maar dié uitruilbaarheid van feit en fiksie word juis in die roman getematiseer. Onder meer is Milla se hallusinasies en fantasieë vir haar wáár, en haar waarskynlik egte kinderspeelmaat, Noyise, beleef sy later as ‘n stuk “onbestaan” (bl. 128). In hierdie geheuelose, gesuspendeerde (bl. 161) staat identifiseer Milla aanvanklik só intens met Ruben se ambag dat sy haarself as beeld-in-wording ervaar, as die “sagte klip” waarteen hy as “beitel” stamp (bl. 19). Dit betrek ook die kunsteoretiese wat hier veronderstel dat subjek en objek, kunstenaar en kunswerk vervloei in ‘n wedersyds kreatiewe proses. Die simbiotiese verhouding tussen die beeldhouer Rodin en Camille Claudel het sterk inspraak en verklaar Ruben se noemnaam vir die onbekende vrou. Camille beteken ook “verkleurmannetjie”, ‘n aanduiding van Milla se metamorfoses op pad terug na haarself. Rodin en sy kunsteorie, maar ook ander kunsteorieë kom ter sprake. ‘n Satiriese oog bekyk ook hedendaagse tendense in die kunswêreld. Die titel van die roman het besondere wye reikwydte. Eerstens dui dit gewoon op Ruben se glasateljee, die “reusekokon” (bl. 15) wat Milla koester en waarin sy ure as model deurbring. Maar glas is ook skans, ‘n “deursigtige grens tussen wat buite is en binne” (bl. 128), tussen hede en verlede. Vir Milla is die buitewêreld betekenisloos en die verlede leeg. En tussen haar en direkte ervaring bestaan weerstand. Die enigste direkte belewenis, “asof sonder glas” (bl. 129), hou verband met haar en Ruben se seksuele verhouding. Eroties en ekstaties is dit, soos die beelde van Rodin in die tyd wat hy en Claudel saam was. Die uiteindelike deurbreek van die “rou werklikheid” sodat haar geheue ook vry begin vloei, het met die letterlike breek van glas te make (bl. 150). Ook die rol van krale is belangrik in dié veelkantige roman – as kunsobjek, as geweefde boodskap in kleurkodes, en as troos teen die liggaam se weerloosheid (bl. 64). Milla wil van meet af aan haar “eie snoere ryg” (bl. 34) – haarself probeer uitpluis en verstaanbaar maak en die lukrake flitse van beleef en onthou tot sinvolle stringe inryg. Met ‘n amulet van wit krale wat Noyise aan haar gee as ikhubalo (beskerming), word ook die oerverbintenis tussen vroue bevestig. Juis Mignon, haar dogter, tel later dié amulet in die rotse op en drapeer dit om haar nek. Milla dring by Ruben aan om ‘n ikhubalo in die vorm van ‘n reusekraal te maak. Om dié “blink waskom van ‘n baarmoeder” (bl. 140) wou sy haar nakende liggaam in ‘n magiese sirkel vou om so weer haar identiteit te herwin. Dit doen sy ook tydens Ruben se uitstalling en veroorsaak ‘n konsternasie. Ateljee van glas is ‘n sikliese raamvertelling, waarvan die binnevertelling ‘n terugflits is na die tyd van haar verblyf by Ruben. Die raam het te make met Milla se lewe ná sy haar geheue herwin het. Trouens, anders as by die ligte liefdesverhaal, sit die roman af met die huwelik tussen Milla en Ruben! Só word die spanning wat ontstaan uit opeenvolgende gebeure by voorbaat gefnuik. Nou soek die leser sy heil in die hoofsaaklik liriese aanbod van die binnevertelling. Dit sluit die pragtige omdigtings van die werk van die Hebreeuse digter Yehuda Amichai in. Hoe poëties briljant die aanbod ook al soms is, “betaal” dit uiteindelik nie, want die gedisoriënteerde Milla “dryf” (bl. 14) net té uitgesponne in haar tyd- en ruimtelose staat rond. Die verskil na inhoud en stylregister tussen die binne- en raamvertellings was myns insiens ook té groot. Dit vervreem die leser. Camille lê haar digterlike oog grootliks af as sy in die raamvertelling transformeer na Milla. Skielik word die aanbod meestal bolangs en soms selfs banaal. Dialoog doen ook meermale kunsmatig aan (o.m. bl. 102) en nie net in die raamgedeelte nie. Op poëtiese vlak het ek veel genot aan die teks gehad, maar romanmatig is dit minder suksesvol.

Gretel Wybenga was verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands op die Vaaldriehoek-kampus van die Noordwes-Universiteit.

 *

Boekgenoot [in: Taalgenoot – Oktober 2004]

 Oor lyflikheid en menswees

 Alles en nog wat oor verskynings en verskynsels in die boekewêreld

 Deur: George Weideman

Marlise Joubert se Ateljee van glas (Protea Boekhuis, R89,95) vertel die verhaal van ’n vrou wat langs die see gaan stap, tussen rotse val, haar bewussyn verloor, geheueverlies opdoen en dan deur haar beeldhouer-man gered word.Hierdie redding is egter relatief, want Ruben hou haar as ’t ware as model gevange, en sy hunker terug na haar kommervrye kinderdae. Geleidelik word sy daarvan bewus dat sy iemand, ’n mens met ’n eie identiteit, is – nie net die lyflike wat deur die beeldhouer in verskillende vorms gestalte gegee word nie. Dié gewaarwordinge lei tot rebelse pogings om te ontsnap.Die vrou, Milla/Camille, leen as model haar liggaam aan Ruben, maar is van tyd tot tyd bewus van ’n ander bestaan – wat haar kinderspeelmaat, Noyise, en haar kinders uit vorige huwelike (veral haar dogter Mignon) insluit. Tog vind sy by Ruben voltooiing, soos wat deur die sirkelgang van die vertelling bevestig word. Die liefdesverhaal moet, saam met al die kuns- en literêre verwysings, as simboliese verhaal oor die verhouding tussen die kunstenaar en sy muse gelees word.Die magies-realistiese droomwêreld waarin Milla/Camille haar bevind, word in beeldryke taal geteken, en dit is juis die beeldhou-gedagte wat die karakter se verbintenis met ’n oerbestaan sterk na vore bring.

Twee kunsvorme – beeldhou en skryf – word op verrassende wyse in die sonhelder Ateljee van glas deurskou. Die talle taaljuweeltjies loop soos ’n string glinsterende krale deur die verhaal, enkele narsistiese insinkings ten spyt.

*