Om oor George te praat

 Om oor George te praat

[Voorstudie vir ‘n radiodrama]

deur

Marlise Joubert

 

 

KARAKTERS: 4

 

Marlise                         Ouer vrou. Voltydse skrywer en skilder. Middeljare verby. Melankoliese stem. Passievol, meelewend.Soms onseker.

Louis                            Ouer man. Digter en boekwinkelbestuurder. In sy midddeljare. Selfversekerd, humoristies, maar ook ernstig. Romantikus. Soms onseker en emosioneel.

Kelnerin                       Jonk. Eiewys. Effens ongeduldig.

Ontvangsdame            Volwasse. Jonk.

 

NOTA: Die toon van hierdie kort radiodrama is lig, maar tog ook sensitief en intiem. ʼn Lomerige en nostalgiese atmosfeer word geskep met die dreun van branders in die agtergrond, die musiek en  sagte gekletter van eetgerei.

Kopiereg:

M Joubert ,Stellenbosch (Maart, 2007)


[BEGIN MET ’N ROMANTIESE LIEDJIE GESING DEUR DIANA KRALL. KRUISDOOF NA SOWAT SEWE TELLINGS MET ’N SAGTE GEROESEMOES VAN STEMME IN ’N RESTAURANT EN DIE VERAF KLANKE VAN BRANDERS EN SEEMEEUE .]

 

Ontvangs        :           [HARTLIK. OP MIK] Goeiemiddag, meneer. Kan ons help? Het julle bespreek?

Louis               :           [KOM NADER] Goeiedag! Ons het nie bespreek nie, maar het julle dalk nog ‘n tafel oor vir middagete? Twee persone.

Ontvangs          :         Natuurlik. Ons is stil vandag. Rook of nie-rook?

Marlise            :           Rook, asseblief.

Louis               :           En voorlangs, by ‘n venster wat uitkyk op die see.

Ontvangs        :           Daar is drie tafels oop by die vensters. Die kelnerin sal julle deurvat.  Bettie …

Kelnerin          :           Goeiemiddag. Kom gerus deur saam met my….hierlangs…

 

[VOETSTAPPE EN MUSIEK. STEMME]

 

Marlise            :           Kan ons die tafeltjie in die hoek kry?

Kelnerin          :           Ja, seker….u  kan sit net waar u wil. Die hele seksie is oop…

Marlise            :           Wat van daai tafel, dis meer in die skadu. Te veel skerp son aan dié kant…

Kelnerin          :           Dis reg so, mevrou. Enige tafel.

Marlise            :           Kan ons die venster oopskuif?

Kelnerin          :           Natuurlik…. kom ek help gou. Net die knip oopkry…

Louis               :           Ja, ons moet darem die see ruik.

Marlise            :           [LAG] En vars lug inkry vir ons longe…

 

[GESKUIFEL VAN STOELE EN VENSTER]

 

Kelnerin          :           Wil u miskien solank iets bestel om te drink?

Louis               :           Hartstog, wat wil jy drink? Wyn? Bier?

Marlise            :           Nee, sommer ‘n glas Coke. Ek is dors. Of wag, Dalk sodawater met lemmetjiesap? Cola Tonic, miskien. Nee, liewer net ‘n glas water. Kraanwater. Met ys asseblief. Dis nogal warm hier binne.

Louis               :           Daar is darem nou ‘n bries van die see se kant af.

 

[BRANDERS  MEER HOORBAAR IN DIE AGTERGROND. SAGTE MUSIEK VAN KRALL]

 

Kelnerin          :           En vir meneer?

Louis               :           ‘n Glas rooi wyn, asseblief.

Marlise            :           Nou wil ek o0k wyn hê. Saam met die water.

Louis               :           [EFFENS ONGEDULDIG] Hartstog, besluit nou wat jy wil drink.

Marlise            :           Ek het mos gesê, het ek nie?

Kelnerin          :           Twee glase rooi wyn dan. En een glas water. [VERDER] Ek bring…

Louis               :           [KORT STILTE] Moes ons nie maar ‘n bottel vonkelwyn bestel het nie?

Marlise            :           [ONSEKER] Ja,  wel….ek weet nie…miskien saam met die ete? Daai heerlike pienkerige sjampanje van ons! Watse naam ook al.

Louis               :           Goed, vir die ete dan. Sigaret?

 

[STEEK SIGARETTE OP, MEEUE KRYS IN DIE VERTE]


Marlise            :           Dis mooi hier, die water is so naby.. reg onder ons. Die berge drywend en ver…..kyk, daar is vissers op die kaai…..drie van hulle. Siestog, die een lyk alte verflenterd en stokoud…

Louis               :           Hmmm, ek sien. En wanneer gaan óns weer visvang?

Marlise            :           Nugter weet….hierdie hele somer het verbygegaan en ons het nie één vis gevang nie! [LAG] Liefie, sit die asbak in die middel asseblief.

Louis               :           [BO-OOR] Asof jy nou kastig die see leeg vang! Meraai wat nog net een vis in haar ganse lewe uit die see kon trek sover ek weet …[LAG]

Marlise            :           En vandat ek vir Lewies ken, het hy ok  maar net één gevang waarvan ek weet en joune was baie kleiner as myne! Waar bly die kelnerin tog nou? Ek is so dors!

Louis               :           Geduldig, jong….Ek dink nou aan iets….ek het so brief ontvang van Celién af. Hulle soek bydraes vir ‘n gedenkbundel vir George se sestigste verjaarsdag….

Marlise            :           O ja, ek weet daarvan…ek het ook so brief gekry met E-pos. Wat gaan ons doen? Moet ons iets bydra?

Louis               :           Ons behoort, ja. Wag, hier kom die meisie nou.

Kelnerin          :           Hier is die wyn, meneer. En ‘n glas water vir mevrou ook. Wil u solank iets bestel om te eet?

Marlise            :           Spyskaart?

Kelnerin          :           Hier ….lê die spyskaart, mevrou. Reg voor u.

Marlise            :           O, ek dog dis die wynlys….Louis, wil jy nou al bestel?

Louis               :           Dankie, juffrou, nie dadelik nie. Ons sal eers so bietjie wag…  die uitsig geniet. So oor tien minute miskien?

Kelnerin          :           Sekerlik. Ek kom weer later… [VERDER}

Louis               :           [KORT STILTE] Mmmm, lekker wyn. Liefste, die brief….ons moet definitief  iets bydra. Dalk elkeen ‘n gedig skryf vir hom, of oor hom?

Marlise            :           [ONTSTIG] O nee, ek kan nie ‘n gedig op versoek skryf nie!  En hy sal net lag vir ons pogings. Hy is dan een van onse beste digters! Sjoe, daai verse darem uit sy Balkanreeks…!

Louis               :           Ons ken hom darem redelik so oor die jare….en vir hom as mens het ek baie respek.

Marlise            :           Ek ook,  maar jy ken hom beter. Skryf jy ‘n vers…miskien moet ek net ‘n portretstudie in waterverf of pastel van hom maak. ‘n Tekening vir die boek.

Louis               :           Ja, jy sou dit seker kon doen…Ek sit nou net en onthou van iets… Wat van my gedig oor die valkenier? Sal ek dit nie maar instuur nie?

Marlise            :           [DRIFTIG] Daai vers is mos vir jou nuwe digbundel! Jy kan mos nou nie …. dit pas ook hoegenaamd nie by George nie.

Louis               :           Maar wat skryf ‘n mens dan vir so ‘n huldigingsbundel? Dis  ‘n bietjie van ‘n ongemaklike ding, is dit nie?

Marlise            :           Ek weet nie, [ONSEKER] ek weet nie wat verwag word nie. Miskien maar net oor hoe ons hom as mens ervaar?

Louis               :           Die lastigheid is dat jy enersyds iets oor die persoon moet sê, maar aan die anderkant ook iets oor sy werk, want sy bydrae tot ons letterkunde is enorm.

Kelnerin          :           [ONGEDULDIG] Is u nou gereed om te bestel? Ons lynvis vir die dag is vars kabeljou…

Louis               :           Wil jy bestel, Hartstog?

Marlise            :           Nee, nie nou al nie. Kan ons nog wag?

Louis               :           Dame,  gee ons nog so vyf minute?

Kelnerin          :           Seker, meneer.

Louis               :           Sigaret?

Marlise            :           Dankie. Maar more hou ek op met rook.

Louis               :           [AANSTEKER KLIK TWEEKEER] Jy voel ten minste dat jy iets wil gee vir hierdie boek?

Marlise            :           Natuurlik wil ek graag iets gee! Net nie ‘n vers nie. Ek is nie goed met opdragverse nie, soos jy weet. En jy?

Louis               :           [DROMERIG] Daai gedig van my, Valkenier….dis tog van toepassing op enige mens, enige kreatiewe persoon.

Marlise            :           Ek het nog daai vers van  jou gered, onthou jy? Jy wou dit weggooi….! Waaroor gaan dit nou weer?

Louis               :           Kyk, tematies is die vers van toepassing op enige iemand wat baie gee van homself.

Marlise            :           Weet jy, sover ek onthou is daardie vers ietwat melankolies, selfs negatief. En dit pas mos nie so by George nie?

Louis               :           En tóg. George het almal wat in kontak gekom het met hom beïnvloed. As jy net dink aan sy aanmoediging … mens vra jou self af wat bly oor vir die persoon self,  hierdie energie en aandag wat so konstant uit hom wegvloei …dis waaroor Valkenier tog gaan…maar nou ja. Ek dink jy is reg. Ek sal die vers los.

Marlise            :           George het al sy passies uitgeleef in die letterkunde en teenoor mense, en ek dink dit het hom eindelose vervulling gegee. Hy het letterlik alle genres ook bedryf, gedigte, vertalings, jeugwerke, kortverhale, romans, ‘n kookboek, toneelstukke…you name it!

Louis               :           En…radiodramas!

Marlise            :           O hemel, ja, [LAG] en daarmee het hy my altyd geklop as ons deelneem aan die radiokompetisies!

Louis               :           Ja, wragtag, George is ‘n meester, want waar hy ook al sy hand op sit, is dit ‘n pronkstuk. En dink aan al die pryse wat hy gewen het, vir romans, radiodramas, verhoogstukke. Vir sy jeugwerk ook, is dit nie?

Marlise            :           Ek dink so. En dan is hy boonop beskeie daaroor, nê? Terwyl ek ‘n ou geringe prysie sommer uitbasuin aan almal! Maar ek reël darem nie etes nie, dis jy wat laas vir my daai verrassingsete gereël het …

Louis               :           En Celién reël mos nou ook iets vir haar geliefde…Dis eintlik so wonderlik dat ons juis verlede jaar ook die Akkertoekenning tydens die Versindaba aan George oorhandig het vir al sy ontwikkelingswerk wat hy gedoen het rondom die poësie.

Marlise            :           Ja, ek is vreeslik bly ons kon dit vir hom gee.

Louis               :           Wel, ek dink nie dis ‘n kwessie van géé nie, hy het dit tog verdien. [MET NADRUK] Loshande is hy een van die invloedrykste skrywers in ons letterkunde. Ons het nog nie eens genoem van sy rubrieke nie, die resensies, al die komitees wat hy op dien… hy is net hierdie ongelóóflike persoon wat soveel gee! ‘n Mens hoop net dat hy al die erkenning sal kry wat hy verdien.

Marlise            :           En ten spyte van soveel terugslae met sy gesondheid, bly hy produktief. Ek verstaan nie hoe kry hy dit reg nie…Hy is so gedrewe! [POUSE] Louis, ek dink ons moet gou na die spyskaart kyk…my maag skree al….wat gaan jy eet? Ek wil net Calamari hê, geen chips of rys nie. Slaai daarby…

Louis               :           Ek ook. Maar die een met stokvis by en skyfies.

Marlise            :           [KWAAI] Liefie, dis nie goed vir jou nie! Chips is vol olie.  Jy weet mos!

Louis               :           [VERONTSKULDIGEND] Ai, my Hartstog, daar is so baie dinge wat nie goed is nie! Ons het almal iets waaroor ons berou het. In my geval is dit die aartappelskyfies. En jy soms met die Coke, die melkskommels, die cocktails en…

Marlise            :           Ag kom nou! Cocktails? Is nie! Ons eet mos nou gesonder.[LAG] Waar was ons laas?

Louis               :           Besig om oor George uit te wei. Wat staan voorop vir jou as jy aan hom dink?

Marlise            :           Wel, ek kry die indruk dat George sommer die goedheid van self is, hy word dan nooit kwaad nie…  daar is niks, hoegenaamd niks boos in hom nie, hy is nooit eens krities nie…hy is…

Louis               :           [BO-OOR] Ek  weet nou nie, krities? Ek het al vir George gehoor as hy baie sterk standpunte stel…hy het skerp insigte, hy sal wel kritiek lewer as iets hom nie aanstaan nie.

Marlise            :           Ja, maar ek bedoel hy is nooit krities op ‘n persoonlike vlak nie en dit maak van hom ‘n goeie en gebalanseerde resensent. Hy is nie destruktief nie. En wat val jóú op van George? Wat is besonders van hom vir jou?

Louis               :           [MET PASSSIE] Hy is net so volledig méns! Sy mensheid staan vir my voorop. Sy egtheid, en sy eerlikheid.

Marlise            :           Down to earth, soos hulle sê. Dalk is dit ‘n kenmerk van mense wat hulle jeugjare in Namakwaland deurgebring het?

Louis               :           Sy pa het wel baie rondgeswerf. Hy het nogal ‘n besondere verhouding gehad met sy pa. [NUUSKIERIG, TERGEND]  Maar wag, vertel my wanneer het jy George die eerste keer ontmoet?

Marlise            :           Het ek jou nooit vertel nie? Dit was in Pretoria. [AFGETROKKE] Ag, ek wil nie daaroor praat nie….

Louis               :           Nee wag nou, liefste. Vertel! Ek wil alles weet.

Marlise            :           [HUIWERIG, SKAAM] Dit was by die poetry kringetjie destyds in Pretoria waaraan al die jong digters behoort het. Die sogenaamde bidure. Ek was ongeveer negentien jaar oud. Dalk twintig. Maar ek kan dit skaars onthou. Ek was onseker en vrek bang vir almal in daai kringetjie. Wat ek wel goed onthou, is dat hy eenkeer saam met ‘n ander outjie, weet nie wie nie,  by my woonstel aangekom het om te vra of ek  gedigte het vir die een of ander tydskrif wat hy saamstel, ek dink dit was vir Mandalon, so iets. Hy het ‘n bos hare gehad, donkerbruin en krullerig. Aantreklik.

Louis               :           [KORT STILTE] En toe?

Marlise            :           Wanneer kom die kelnerin dan weer?

Louis               :           Marlise! En toe?

Marlise            :           O, ag, toe niks nie. Ek het niks gehad om te gee nie. Ek was baie afwysend, ek wou seker niks bydrae nie. [SAG,NADER] Weet jy, liefie, ek was sommer lelik, ek was onbeskof, want ek het hulle nie eens ingenooi nie! Ek het sommer so deur die badkamervenster met ‘n dunne ou nagrokkie aan –want dit was seker al laat in die aand – met hulle gestaan en praat! Dit was van daai groot vensters. En daar was toe mos nie iets soos diefwering nie. Ek was onvriendelik gewees. Onvergeeflik! Ek het jare lank baie sleg daaroor gevoel dat ek juis vir hóm nou van alle mense so stief gehandel het!

Louis               :           Ja, nê? [LAG. VERMAAKLIK]  En dit was boonop die tyd toe jy bekend geword het as die digteressie met die mooiste bene in Pretoria wat glo ….

Marlise            :           Louis! Nee! Ja,  ai…. daai foto! En Rykie van Reenen met haar         voortvarende joernalistiek….laat ons nou liewer nie daarop ingaan nie. In elk geval, ek het mos onlangs in die winkel met sy boekbekendstelling vir hom vertel hoe sleg ek daaroor gevoel het. Hy het hoegenaamd nie gedink dat ek so lelik met hulle was nie. Was soos ‘n berg van my af, dat ek  minstens oor my verleentheid kon praat, en dit nogal na byna ‘n halwe eeu! Ek voel nou baie beter en kan hom minstens vierkantig in die oge kyk.

Louis               :           Ja nee, hy is een mens wat jy nie op so manier moet behandel nie. Dalk was dit nie so erg soos wat jy jou verbeel nie?

Marlise            :           Was erg genoeg. Ag, ek was jonk, en sommer net vol nukke en agterdog oor al hierdie skrywers wat so uit niet opduik by my woonstel. Wanneer het jy vir George die eerste keer ontmoet?

Kelnerin          :           [ONGEDULDIG] Meneer, is julle gereed vir ‘n bestelling?

Louis               :           O ja, asseblief. Twee Calamari’s. Een met die stokvis by en aartappelskyfies en die ander een, vir my vrou … net met slaai. Grilled.

Kelnerin          :           Een…met stokvis…Een… [SKRIBBEL OP ‘N PAPIERTJIE] net met slaai…Seker meneer. Iets anders?

Marlise            :           Kan ek nog iets kry om te drink?

Louis               :           Gaan ons dan nie die vonkelwyn bestel nie?

Marlise            :           Natuurlik, ja.

Louis               :           Ons het mos iets om te vier.

Marlise            :           Wat vier ons?

Louis               :           Die dag.

Marlise                        En die see en die poësie.

Louis               :           Kan u vir ons ‘n bottel JC Le Roux bring…die rooie.

Kelnerin          :           Ons het daarvan….ek bring vir u.

 

[ANDER MUSIEK. NOKTURNES VAN CHOPIN. BRANDERS]

 

Marlise            :           Dis so  rustig hier. Waaroor het ons laas gepraat? Haai, die vissers is nou weg. Hoop hulle het iets gevang… die ou man ook.

Louis               :           Jy het gevra wanneer ek vir George ontmoet het. Dit was in die Tagtigerjare. By die Skrywersberaad in Gordonsbaai. Dit was my heel eerste kontak met hom. Ek was nogal ontnugter met al die skrywers, hoor,  maar enkeles soos George het my geweldig beïndruk  juis vanweë sy menslikheid.

Marlise            :           En nog?

Louis               :           [LAG] Ek onthou nou hy het so loshangende hemp gedra wat van ‘n meelsak gemaak is.

Marlise            :           Dit onthou ek ook… ek was mos daar.

Louis               :           Ek weet, dis waar ek  jou óók die eerste keer ontmoet het.

Marlise            :           Wat ek natuurlik nie kan onthou nie.

Louis               :           Nietemin, George en Celién was daar en hy het my so welkom laat voel en daardie eerste indrukke is maar net later herhaaldelik bevestig.

Marlise            :           George is flegmaties, en meelewend.

Louis               :           Maar nou, vandat ek in die Kaap is, het ek hom natuurlik meer dikwels gesien. En beter leer ken.

Marlise            :           Ai, dit was nou die dag so lekker om hulle en Braam en Hanna by ons huis te hê. Was dit nie ‘n heerlike geselligheid nie? Fantastiese geselskap. Pittig. Daar is definitief ‘n besondere verhouding tussen Celién en George. Onthou jy daai dag toe hulle by die wynplaas die mooi liefdesvers van George so albei saam gelees het ?

Louis               :           By Koopmanskloof. [DROMERIG] Dis asof hulle soms nét met mekaar praat, so met die oë, oor dinge waarvan ons niks weet nie.

Marlise            :           Raai wat, George het Celién ontmoet toe sy nog op skool was, het jy dit geweet? Ken jy daai storie?

Louis               :           [ONSEKER] Sowaar, nê?

Marlise            :           Daar was so storie. Hy het vir haar skoolgehou! Tóé het hy al ‘n ogie op haar gehad. Vir haar gewag om matriek klaar te skryf…Maar ek ken ook nou nie die hele verhaal nie. Net so iets iewers gehoor.

Louis               :           Wel, dit pas by George. Iemand wat sommer van jongs af presies geweet het wat hy wil hê. En daarvoor gaan. Was ons maar almal so gewees…

Kelnerin          :           Meneer…..die etes is gereed…..hier is die vonkelwyn…

 

[PROP SKIET AF EN GELUIDE VAN SKINK EN EETGEREI]

 

Louis               :           Dankie. Baie dankie.

Kelnerin          :           Smaaklike ete!

Marlise            :           Dankie. Louis, ons sal moet besluit wat om oor George te sê. [ERNSTIG] Ons sal iets moet skryf….maar ek weet nie of ek kan nie. Ek het wel so vae idee wat ons dalk kan doen…wat wil jy bydra?

Louis              :           Ek weet nog nie, ek sou ‘n vers wou skryf…maar ons het nie veel tyd meer oor nie. Miskien iets heeltemal anders doen….ag, ons kan later by die huis weer gesels. Hartklep! Kom ons drink eers ‘n heildronk op George.

Marlise            :           Okei, dan besluit ons later wat om te doen.

Louis               :           Sê jy iets. Stel die heildronk in.

Marlise            :           [LAG] Nee, eers jy!

Louis               :           Goed. Ons drink op George se sestigste, op sy gesondheid, op sy geluk en…

 

[GLASE WAT TELKENS TEENMEKAAR KLINK]


Marlise            :           Op sy pennevrugte wat nog gaan kom.

Louis               :           Op alle skrywers wat hom ken en geniet.

Marlise            :           Ons drink op die see en die son. Die vissers wat al huistoe gaan….

Louis               :           En ons drink op die liefde.

Marlise            :           Ja, op alles… maar veral hoe George baie mense se lewens verryk het.

 

[Einde]

 

(George Weideman is in 2008 oorlede).

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*