In Leketaal bespreek die digter en uitgewer MARTJIE BOSMAN ’n gedig van Marlise Joubert.
Uit: Die Burger [By], 26 Januarie 2008
waarskuwings
ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los
ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels
kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer
in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku
teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang
want hulle blink verniet
ek moet jou waarsku
teen die maan se mistige oog
die son se roomwang teen jou gesig
ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer
met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai
ek moet jou waarsku
teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug
teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos
teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad
ek moet jou waarsku
teen my kissie van roospapier
waarin al my juwele is die krabbers die hangers
en die ringe van topaas
ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie
minder as woorde minder as water minder as brood
want die liefde het net oë vir mekaar
liefde is sonder bril in mekaar
liefde is oë vasgewaai inmekaar
liefde is sonder alles omheen
liefde is ’n dennewoud
liefde is ’n beurende dennewoud
waar die boskapper
onverpoos kap
ek moet jou waarsku
In Marlise Joubert se sesde digbundel, passies en passasies (2007), is ’n hele aantal “omdigtings” of vrye vertalings, sommiges van verse van bekende digters, soos “verse vir ’n man” wat deur die Israeli-digter Yehuda Amichai geïnspireer is.
Die laaste afdeling, “sleursange”, bestaan grotendeels uit omdigtings van liedere en spreuke uit Technicians of the sacred:a range of poetries from Africa, America, Asia, Europe & Oceania (1985, onder redakteurskap van Jerome Rothenberg). Dié bundel bevat – vir my oor – vreemde verse, aanroepings, vloekspreuke, beswerings, dansliedere uit onbekende kulture of verse wat só oud is dat ’n mens bewus is van die eeue wat ons van die oorspronklike skeppers daarvan skei. Tog bevat die verse terselfdertyd iets wat so universeel is dat die verwydering van tyd en afstand wonderbaarlik oorbrug word. Lees byvoorbeeld dié reëls uit ’n omdigting van ’n Peruviaanse danslied:
staan op, vrou!
word wakker, vrou!
in die middel van die nag
begin die maan te tjank
die dood is aan ons verwant
die dans is aan ons verwant
en as die dans komdan moet jy dans
Die afdeling bevat egter ook ’n aantal eie gedigte waarin Joubert aansluit by die patrone van die primitiewe. Een van dié verse is “waarskuwings”. Die perspektief is onbeskaamd vroulik, soos deurgaans in die bundel, en soos in talle van die gedigte, is die liefde die onbeskaamde tema.
In die eerste strofe word met verwysings na tarentaalvere, ’n wasgoeddraad, ’n juwelekissie, ’n bril, molle wat wortels vreet en honde wat asblikkos soek, ’n eietydse, herkenbare werklikheid geskep. Maar hier is tog ook iets bevreemdends, iets misterieus en selfs bedreigends aanwesig. Dié effek word veral deur die herhalende frase “ek moet jou waarsku” verkry. Daardeur is die roering van die wind in gordyne nie meer onskuldig nie; ontglip die sin van die blinde aktiwiteite van die molle en die sterre wat verniet blink ons en word die lam voor die stoof iets gruweliks. In die laaste reëls van die strofe word teen die vrou se sierade gewaarsku, asof dit die tekens van heksery kan wees.
Maar in die tweede en derde strofes word al hierdie vreeslike dinge ontkrag, want vir die liefde is dit niks, die liefde sien dit nie eers raak nie. Vir dié wat liefhet, val alle ander dinge weg. En miskien is dit juis dáárteen wat die waarskuwings moet opklink …
——————–
Lees ook die gesprek met Joubert in die Digstring: waarskuwings op Versindaba.