bepeinsinge deur ‘n ou digter
(‘n weggooivers)
die oggend draai haar somersig weg
die katte slaap dig teen die veiligheidshek
ek is lesende aan gedigte
op my laslappiebed, terwyl daar hoog
teen die plafon ‘n reënspinnekop sit
ek lees van al die worstelinge, die verdriet
en gepeins oor die lewe, liefde en seks
ek lees oor taal en selfdood, partytjies
en drank, die las van white privelege
se spook, en ek verloor geheel en al moed
skink weer koffie, kruis ineen oor die gekras
in die hart van ‘n kladboek of ‘n kubermuur
oor jong laptopvingers wat tongwoede teks
die worstelinge, die verdriet en gepeins
oor die lewe, liefde en seks
terwyl die oggend haar gesig wegdraai
op ‘n sending elders heen
en die reënspinnekop wag
en wag op reën
c mj/2018
Uit: Domus (Tafelberg Uitgewers, Kaapstad,1973)
Jou loop oor teerpad
Jou loop oor teerpad
gly verby pleine en huise geluik
teen uile van die nag
en nêrens is daar sulke strate
wat jou bergop laat loop
bergaf
terwyl die palmbome
gehoorsaam regop staan
en blare die wind roer
hernu uit die hange
nêrens sulke huise swyend en wit
soos nonne kniel in die grond
die skouers vooroor gebuig eerbiedig
vir die klap van jou allenige voete
terwyl die reën oor die kraag
van ‘n heining bloei jou loop
oor teerpad ver pad
middelmanpad
terwyl die reën
die benediksie van jou voorkop vergesel
~~~~~
Voorspel
Terwyl die jaar dof begin
en dagbreek grys oor dakke sleep
terwyl die see haar silwer heupe skud
geboortes gee en sterf
terwyl my vriende uit ‘n vormlose nag
sirkels lag en hoeke huil
soos bekke van diere die pyn oopruk
en die lieflike flanke
van somer afskeur
terwyl die snawels van voëls
los reis en wit
is my dag pasgebore
en gewier in sand
my bruin begin warm en nakend
my mond wat bloei donker see-anemoon
terwyl die mossels ewig slaap
met swart boggels teen die son
gekeer
~~~~~
Septemberkind
Mooi is die land se tuine
in die maand van mane en van reën
maar my dae is droef soos winterreën
en die wind kom aangewiel
soos ‘n koets oor die heuwels
gelaai met blomme en saad
tollende vinne van bloekomblare
wat speek deur die lug oor die pad
die smal pad
waarin ek gekreukel loop
mooi is lemoene
in sakkies of kissies of in bome
altyd mooi soos oop monde son
maar in my skoene skuur en skaaf
die growwe sand
en ek loop gekreukel soos ‘n kind
met verlange na my enigste ma
waar lugkastele nie meer nodig is nie
en haar vel die geur van koeltes dra
want sy roep die getye bymekaar
sy beskerm die muise en miere teen aasvoëls
sy is leeu se kind ‘n ma koningin
sy is die oersee wat ‘n ogie
oor skeepswrakke hou
wat haar huis verander in ‘n baarmoeder
as ek so wil of ‘n oor of ‘n wieg
vir moeë ledemate as ek so wil
sy is die koel septembervywer
in die binneland van elke kind
~~~~~
Reisiger
ek kan die sterre laat doof as ek wil
ek kan die lelies laat luister
terwyl ek loop met ‘n mes in my hart
en my asemhaling ‘n wond in die hemel sny
ek sal my by ‘n vuurmaakplek
van gister verwarm
terwyl die bome oud word
en ek sal alleen reisiger wees
want oral val die reën herfs
en uit die skeur van my mond
vlieg die swaeltjies weg
moenie dink nie moenie praat nie
luister –
die klam heide fluit vir die wind
die dolk is ‘n denneboom in ‘n tyd
van skerpte
ek kan die sterre laat doof
ek kan die lelies laat luister
~~~~~~
Cuarenta y tres
opgedra aan Rodrigo
Kitaar
wilgers water
fluite likeur op my tong
en my verhemelte vou klanke toe
en oop:
‘n stadige stoet van koningskinders
beweeg deur die strate van Murcia –
keistene hard soos kwepers
die galop van kitare stol en tril
ontbind
en waai weg in die eerste wind
in my hand
brand my glas laag en soet ‘n vuur
vog van Spanje geel sap
getap uit die koeie van Katalonië
my oë hang oor die glas wynvrug
soos sonne oor skoon dakke brand
drif en vrugbaarheid
uit die ver bruin land
en sy gras
groei wild in my mond
keel long en hart
my hart roei met skuite
deur kanale oor elke afgetrokke waterval
elke bitter vlegsel rots
my skuite warrel soos papiere in arenas
van wiegende skares
en ‘n sigaret
kyk met die rooi oog van ‘n stiervegter
in die middag se bloedfontein
~~~~~
Landskap
die pad
ruik na bees en reën
en swaeltjies vroetel neste
in die walle oop
‘n nag se ribbes
breek vore teen die Waterberg
land se landskap vlei die wind
uit Rietfontein en dans
die grassaad los
my lyf is rooi gereën
~~~~~
Vensters in die Waterberg
In elke oop venster
hang ‘n stuk van hierdie wêreld
baldadige blou lug wat agter horisonne uitbondel
baksteenmuur bruin en bros gebak met son
pilare soos dun sipresse hou wag
op ‘n vreemde stoep
en oral vlam die lig so wapperend wit
dat my oë omdraai van die pyn
en skuiling in die skadu’s
agter lede soek en ek glip
onder die dowwe blare van ‘n boom in
kyk na die takke wat uit die grond opklim
en wegkrul in die groen room
die ou vroutjies van my hande
kom rus in my skoot opgekrul en bleek
van te veel donkerleef in stede en droom
oor daardie kamers waarin ek eens geëet
en liefgehad het:
hierdie klein opgeswelde damme
waarin my voete waterhondjies wou wees
en die voetpaaie wat ek oopgeskop het
tussen die berge uit ‘n kind se landskap
‘n mooi spel soos watervalle skoon
oor die kele van kranse val
my dae skuif oop soos geblomde gordyne
en in elke venster hang ‘n stuk
van hierdie wêreld
ver en onafhanklik
van my rug wat nou ‘n leuning soek
‘n sagte holte
om die aarde soos ‘n minnaar
oor my lyf trek
en vir altyd in sy huis
vol gebrandskilderde vensters te woon
~~~~~
Uit: Ontruiming (Haum, Pretoria, 1986)
*
verdriet verdriet
hang vinkies vol
aan jan se boom
ek pluk ‘n rooi papawer
steek dit in jou hart se klop
bring ‘n blaar
olyf en fetakaas
maak ‘n griekse slaai
ek bak die broodjie
jy braai die vleisie
huis paleis pondok varkhok
~~~~~
dorp
ek lê vanaand
warm tussen kuikengeel lakens
so sag en asemsoet my hart
en wonder wanneer gaan ek dan
my tolbospootjies rek
deur die wit gebakte mure van my pondokkie breek
om ook soos ander graaff-reinetters
pikpik deur die dorp te loop
met ‘n druiwekorrel soet in die krop
en ‘n bitter pitjie in die bek
~~~~
(st. lucia)
die water riffel
maak wit sierstekies oor die sand
jy loop met jou seun uit op die kaai
julle loop met hawaiïse hemde
goud en groen geweef
die meer kom in beroering
kuifkop waar ‘n seekoei blaas
en jy loop met jou seun
tot op die einde van die kaai
ek het te skraal geword vir jou
jy het so min in my belê
‘n wolk se vlek verdwyn in die water
en jy loop met jou seun
verby die jetty waar die meeue
met glasoë wantrouig verder wip
ek word al minder hier
ek groei inheems en klein
en ruik miskien nog soms vir jou
na ‘n laventelbos
jy stap verby die jetty
waar die bote ruk om los te kom
jou hemp bol die wind
die meeue vlieg op
hang soos marionette aan die lug
alles skiet saad behalwe hierdie dink
oor jou oor my oor jou
diep in die bosse lê die kreupelhout dig
dis mooi teen skemer hier
die bosse sifvormig en vertroulik rondom
die meer wat gladgestryk lê
rooskleurig half soos materiaal
my dink is leeg en skraal
jy loop met jou seun verby die jetty
onder die takke deur waar voëls
nesgemaak het in elke boom se mik
verby die ligter skadu’s van my lyf
en ver agter jou begin die pelikane
hulle wit pylnate oor die water stik
~~~~
Uit: So ver en verder (Perskor, 1976)
ROETEREIS
van hier het ek uitgegaan op vier wiele
oor baie bome en windgeskommelde gras
so teen skemerson van hierdie vulstasie
verder waar somer oor heuwels aanwas
waar vrystaatse boere hulle landerye brei
en verder, met die oog reeds vol groen
deur karoo waar vygieberge groter groei
en groter oor my slaap tot anderkant uit
‘n nuwe more in wat wag
en byna praat met ‘n donkerblou mond
oral op land word koring geoes
en by kleinmond snor die branders
hulle motorbote op die kus af
met wit vlae wat die wenpaal wil haal
die sand waai-waai tussen my borste in
waai in die bakluisterhandjies van my ore in
hier is ek op onrus se habitat waar die lug
vol babbelende gate tussen soutwolke bly
en ‘n seeson naakte vorms oor my liggaam sny
hierdie strand het die vel oud gewaai
hier is ek geherberg in ‘n wit plaashuis
‘n kamertjie met blomverbleikte gordyne
rottangstoel en breëplankvloer
ek ry deur lappe koringgeel
jan flap roep ver
en klap sy hande vir caledon
verder vir genadendal
riviersonderend
verder vir die swartslang buite swellendam
verder verder
maar altyd is ek hier
van waar ek uitgeaan het
waar die grond haar asem
aan my voete hang
~~~~~
REISGEDIG
saans is ‘n weeskind
en drome trek terug na blokke klip
romeins opgestapel
oor ‘n bruin segoviaanse stad
en terug
na waar die onvoltooide gaudi-tempel
in suile staan:
gevuiste krulle om die lig gebal
‘n seeroos van mosaiek
geboogde klip
wat wegrank na die son
my ledemate reis nie meer nie
hang doelloos
in die vaal lente hier
maar saans is ‘n weeskind
wat alles wil onthou: hoe oker
koepels eensaamheid bevrug
‘n vallei sy koring in die oë kom skei
en skemerend
ek na die broeiende tog
my skerpgevlamde woorde
in ‘n swembad weer kon blus
uit mure
palm die paaie
deur stofheuwels af
tot teen die blou borsvinne van die see
tot by die groot lemoenskelet
van ‘n ou kasteel
om te slaap
waar snags die vure nog soos bye blink
en verder nog
al met die lang swaard van die pad
tot dié gedig
sprei in sy bloed
en tussen knieë
van oopgeskeurde pirenieë
na buite glip
————–