Openingstoespraak by Kunstentoonstelling: Watergrepe

OPENINGSTOESPRAAK deur Louis Esterhuizen:

Watergrepe (Marlise Joubert), 17 April 2012

PJ Olivier Kunssentrum, Stellenbosch

  1. In sy memoir The Invention of Solitude verwys die bekende Amerikaanse skrywer Paul Auster na ʼn skildery as synde “the collapse of time into images”. Hierdie siening kan natuurlik net so op die liriese digkuns van toepassing gemaak word, want teenoor die roman, waar daar van verteltyd sowel as vertelde tyd sprake is na gelang van die vraag wat volgende gaan gebeur, is dit asof die liriese vers die tydsverloop tot stilstand dwing rondom die vraag “Wat gebeur hier?!” Net so is dit gesteld met die visuele kunswerk. Inderdaad, “the collapse of time into images.” Daarom is dit hoegenaamd nie verrassend dat Marlise, wat eweneens as digter met sewe gepubliseerde digbundels bekend is, haar spesifiek tot die akwarel as kunsvorm aangetrokke sou voel nie, want die verwantskap tussen die digkuns en waterverfskilderye strek selfs wyer as wat ʼn mens aanvanklik sou vermoed. Inderdaad staan die poësie teenoor prosa soos die akwarel teenoor die olieverfskildery.

  1. Ten eerste, die reeds genoemde tydsaspek. Aan ʼn olieverfskildery kan die kunstenaar weke, selfs maande werk; gemaklik kan foute herstel word en kan gedeeltes selfs volledig weer en weer oor geskilder word tot die kunstenaar tevrede is met sy of haar produk. Hierdie luukse is helaas nie die waterverfskilder beskore nie, aangesien die akwarel volledig in die moment na gelang van die bloeipatrone op die papier moet geskied vóór die vloeiing droog word en stol. Intuïsie en spontane aanwending van ’n verskeidendheid tegnieke is dus ʼn noodsaaklike voorvereiste vir die waterverfskilder omrede daar bitter min geleentheid tot die herstel van foute óf manipulasie gaan wees nadat die verf droog geword het.

  1. Maar kom ons visualiseer vir ’n oomblik die waterverfkunstenaar by haar skildertafel: die papier is gestrek op die plat vlak van die tafel; alles is gereed – die kwasse, kleurbakkies, waterhouers; in haar gedagtes het sy ’n idee van wat dit is wat sy wil skilder – daar mag selfs enkele buitelyntekeninge op die papier wees twv korrekte proporsie, balans en fokus; dan word die papier met ’n spons natgemaak: meer op bepaalde gedeeltes waar ’n groter mate van vloei nodig gaan wees; minder elders waar meer en fyner detail aangebring sal word. Sommige dele kan selfs droog gelos word. Dan die eerste kwashale. En soos dit die geval is met ’n gedig, vloei alles stuwend vorentoe vanaf daardie openingsreël – die vloei moet beheer word; die toonwaarde en kontras van kleur moet presies rég geplaas word; die skadu’s, ’n onverwagte bloeipatroon wat lyk soos ’n boom: vinnig, vinnig, ander kwas met bruin strepie as suggestie van stam; groen vir blare – onthou die balans, onthou die fokuspunt – telefoon! nee, nee, nie nou nie … die verf word droog; iemand by die deur: gaan weg, gaan weg! Dames en here: stel julle hierdie gefokusde intensiteit voor; die adrenalienstuwing wat so skitterend deur NP Van Wyk Louw raakgevat word in sy vers Renboot: “My boot skiet rasend oor die see, / die vrees vlieg soos ʼn wit voël mee: // moet hy nie sink as hy gaan staan? / (iets donkers gryp-gryp onderaan). // My vaart is wankel ewewig / tussen swart see en hoë lig.” Terloops, nog ’n verskil tussen die akwarel en die olieverfskildery is dat die olieverfskilder altyd beweeg van donker na lig of wit terwyl die akwarelkunstenaar weer omgekeerd eerste haar wit dele bewaar (as sy wil), ligte kleure plaas en daarna die donker. Inderdaad in ’n voortvloeiende ewewig tussen “swart see en hoë lig.”

  1. En dit alles voor die papier “moeg” word, soos Marlise dit graag stel. ʼn Opmerking wat ons bring by die kwessie van papier. Soos die digkuns is die akwarel een van die oudste kunsvorme bekend aan die mens; ʼn kunsvorm wat sy ontstaan in die Ooste gehad het in die tyd toe papier nog handgemaak was. ʼn Kunsvorm wat getrou aan die Oosterse filosofie van eenvoud tot stand gekom het met die minimale aanwending van vorm, lyn en kleur. En dit is juis hierdie ietwat verouderde opvatting van die akwarel as ʼn deursigtige, eendimensionele kunswerk wat dit vandag tot nadeel strek deurdat dit in die algemeen gesien word as ʼn minderwaardige kunsobjek in vergelyking met die olieverfskildery; ʼn weerstand wat bestaan by sowel die kunsliefhebber as die –handelaar. En ja, dieselfde weerstand bestaan ook jeens die digkuns, want teenoor die roman, bestaan ’n gedig dan uit sóveel minder woorde … Hoe dit ook al sy – indien u rondom u kyk na die akwarelle waarmee Marlise ons vanaand hier trakteer, sal u besef dat sy níé die konvensionele aanslag van deursigtige (of bleek) minimalisme volg nie en dat die vernuf wat verlang word om hierdie geskakeerde kunswerke tot stand te bring, eintlik u handeklap verdien.

  1. Nog ʼn interessante aspek van die akwarel is die wit van die papier; soos dit die geval is met die digkuns waar die wit die gedig tipografies omraam, onderlê die papier se wit ook die akwarel. Net so is daar by ʼn gedig dikwels “oop stukke” wat dmv assosiasie en suggestie ingevul moet word, is dit wat jy by die akwarel “sien” dikwels dit wat nié geskilder is nie; maw die wit van die papier wat jy sien, is juis dit wat ontbreek; uiteraard, soos dit ook die geval is met die gedig. In die geval van die akwarel is dit egter ook nog die dikte, grofheid en gepaardgaande grein van die papier wat die vloei op heel direkte manier bepaal.

  1. In wese is die uitdaging waarteen die waterverfskilder haar tegniese vernuf plaas, dus die beheer van water; vandaar die titel vir hierdie uitstalling: Watergrepe, of te wel: om greep te kry op dit wat vloeibaar is en só vinnig met verlede tyd vervloei … ʼn Poging om bepaalde waarnemings en ervarings júís in een van die mees intuïtiewe en spontane mediums tot beskikking van die kunsskilder tot stilstand te bring; ʼn uitdaging wat Marlise danksy haar ervaring en bedrewenheid op ʼn eie, unieke manier trotseer, want die grondbeginsel wat haar kreatiwiteit nog áltyd onderlê, is dat jy as kunstenaar die moontlikheid wat ʼn bepaalde genre bied, ten volle moet ontgin. Of dit nou radiodrama, kortverhale, roman, gedigte, pottebakkery of skilderwerk is.

  1. En dit is juis hierdie spontane ingesteldheid ten opsigte van die moontlikhede wat haar medium het om te bied, wat haar van vele waterverfskilders in Suid-Afrika onderskei. Neem gerus die skilderye “Watervlerke” en “As die wind so waai”, as voorbeeld. Hier het Marlise met bepaalde tegnieke ’n besonderse suggestie van beweging bewerkstellig; in die skildery “Strome wind” het sy weer beweging verkry deur die papier se wit te gebruik om ʼn suggestie van verbrokkeling te bewerk. Kyk gerus ook na die skildery “See toe”; veral na die kontras wat tussen die strak lyne van die voorgrond teenoor die dreigende kolking van die wolke in die agtergrond. Dieselfde geld die skildery “Sonneblomland” waar Marlise die effektiewe gebruik van die papier se wit in die voorgrond saam met die helder kleure van die sonneblomme kontrasteer met die stuwende bevloeiing van ʼn storm in die agtergrond. Teen hierdie pertinente voorliefde vir landskappe kan die intieme sfeer van haar stillewes en portretstudies geplaas word.

  1. Maar hoe kyk ʼn mens na akwarelle? Afgesien van die konvensionele elemente van lyn, vorm en kleur, balans en fokus bied die akwarel die wonderlike vermenging van bloeipatroon en detail … Eersgenoemde het met die spontaniteit van ’n ontdekkende verkenning te make, en laasgenoemde met die tegniese beheer om ʼn herkenbare en esteties-bevredigende geheel uit dié vervloeiings na vore te bring. Kyk byvoorbeeld na die lieflike “Landskap met riete” se veelvuldige kleurnuanses en ook die treffende seepatrone in “Enklave”. En van hierdie spontaniteit is selfs die humor nie uitgesluit nie; kyk na die geamuseerde gesigsuitdrukkings van die beeste en ook van die man met die boek; wat terloops nié ’n digbundel is soos u dalk mag vermoed nie, maar ’n kookboek. Inderdaad is die akwarel in staat tot subtiele nuansering en ontroering; net soos dit die geval is met die gedig, want volgens my analogie kan die vloei van water wat beheer moet word, gesien word as die stuwing van inspirasie (of emosie) wat die digter dmv sy gedig moet ver-táál en ver-díg.

  1. Maar wat die akwarel van enige ander kunsvorm onderskei, is die feit dat dit ʼn totaal unieke kunsobjek is wat nié oorgemaak, nageboots óf vervals kan word nie, omrede daar sóveel uiteenlopende faktore is wat bydra tot hierdie unieke kunsuiting: van die lugtemperatuur wat bepaal hoe vinnig die papier droog gaan word, tot die papier se grein wat die hoeveelheid vloei én die patroon daarvan bepaal; van die kwas en die hardheid of sagtheid daarvan, tot die hoeveelheid water wat met die verf vermeng word. Soos ek reeds by monde van Paul Auster gesê het: inderdaad, “the collapse of time into images”. By uitstek is die akwarel ʼn kunsobjek wat jou tot stilstand dwing; ʼn kunsobjek wat jy nie net sien nie, maar waarna jy weer en weer kan kyk en telkens iets anders, wat jy nog nie vantevore raakgesien het nie, kan ontdek.

  1. Max Beckman, ’n kunstenaar wat reeds in 1950 oorlede is, het by geleentheid gesê: “Painting is a very difficult thing. It absorbs the whole person, body and soul.” Net so geld dit vir die digter en spesifiek ook vir die waterverfkunstenaar. In aansluiting hierby sê Betsy Hosegood en haar boek Inspiration to paint watercolours die volgende: “It is crucial to me that the viewer senses the creator, the person behind the work”; ook Alvaro Castagnet in sy boek Painting with passion beyond technique: “An artist should transmit with total honesty his or her feelings for the subject, with paint.”

  1. En dit is presies dit wat hierdie akwarelle van Marlise vir my so besonders maak, want enige van u wat Marlise ken, sal die méns Marlise Joubert daarin herken: die stiltes, die verwondering met selfs die mees vervlietende momente wat die lewe het om te bied; die intimiteit wat uit haar werke straal; voeg daarby die genuanseerde rustigheid wat Marlise se waterverwe kenmerk, en u sal besef dat u inderdaad hier met iets van groot waarde te make het; iets wat nooit sal ophou om plesier te verskaf nie – uniek soos dit is – want uiteindelik is die akwarel ook dít wat onthou word nadat die water verdamp het; as watergreep iets wat behoue bly nadat die vloei tot droogstand gebring is … As belegging téén die vervlakking; téén die verbygaande aard van kitsbelewenis en oppervlakkige harwar van ons daaglikse roetine, iets wat geslagte lank sal duur. Soos ook die digkuns.
This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Openingstoespraak by Kunstentoonstelling: Watergrepe

  1. Charl Cilliers says:

    Die uitstalling was pragtig, en hierdie was een van die beste openingstoesprake waarna ek al ooit geluister het.

  2. Geluk aan beide van julle en Bravo vir die openingstoespraak.Van die beste ooit. So moet dit gedoen word!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*