Sokkies van dwergies

 Sokkies van dwergies

-Marlise Joubert-

Sneeuwitjie en haar sewe dwergies is nie meer die oulike storie waarna jy grootoog geluister het as kind nie.

Nee. Deesdae spring sneeuwitjie met lang vlymskerp tande en stoute wurmagtige dwergies sommer eensklaps uit jou rekenaar en saai totale verwoesting.

En dié virus tref my toe ook! “Today, Snowhite was turning 18. The 7 Dwarfs always where very educated and polite with Snowhite. When they go out work at morning, they promised a *huge* surprise. Snowhite was anxious. Suddenly, the door open, and the 7 Dwarfs enter…”

Nogal komende uit ‘n skelm e-posbrief van ene hahaha wat ek per ongeluk oopgemaak het. My rekenaar het geen anti-virus program en dus het ek ook geen waarskuwings gekry nie.

Maar uiteindelik word die virus hier uitgewis, nie met ‘n antivirus-program  nie, maar met my seun (die rekenaarboffin) se hulp uit die Didata-kantore waar hy werk. Eers moet ek al die infected leggertjies delete, sê hy, behalwe die heel ou grote wat ‘n system-legger is nl die wsock32.dll.

Die watse sok? vra ek benoud.

Die wee-sok-32, seg hy, sok, soos in sokkie wat jy dra. En hy spel alles mooi uit vir my.

Ek deliet al die onbenullige klein faailtjies, behalwe die sieklike sokkie. Toe pos seun vir my die nuwe sokkielegger per iemyl.

Ek moes die nuwe sokkie wat geen infeksies in het nie, na ‘n folder toe stuur soos My Documents of Temporary Files of iets in dier voege. Moeder maak toe so, knorrig oorlat Bill Gates allie pad bank toe lag en ons moet suffer met dwergies in liederlike sokkies wat al ons dokumente opvreet.

Ek maak my Explorer oop om seker te maak die nuwe legger is nou veilig in Temp gecopy.

Maar daar is niks nie!

Ek copy oor en oor na verskeie folders toe en met Explorer kry ek net nie daai nuwe sokkie nie. Bel weer vir seun in Gauteng en met ‘n View-something se venstertjie wat ek hier en daar en oral moet tjek en un-tjek met regmerkies word die probleem opgelos. En woeps wys al wat ongeinfekteerde sokkie-legger is, toe seun opdrag gee om onder FIND te gaan kyk. In elke denkbare folder is daar toe ‘n sokkie!

My seun wil hom doodlag en vertel my ‘n grappie oor ‘n dom blondine wat ek liefs nie hier sal herhaal nie. Nietemin, ek word met ompaaie gelei na DOS toe want daai legger met die virus in, kan ek nie sommer so deliet nie – dit kan net in DOS gedoen word.

Seun dikteer waffer Commands ek alles moet tik in DOS en ek sokkiejol toe maar so met die Tien Gebooie voort en dis deliet en copy hier en oraldeur en voilá die oue is weg en die nuwe een in sy plek. Kraakvars en sonder siekte.

Weer terug op Windows. Alles werk mooi. Temperatuur normaal en asemhaling stabiel.

Maar eers moes ek al die onpaar sokkies uit aaaal daai laaie verwyder toe ek mos so woes tekere gegaan het. Seun lag hom weer ‘n papie en vertel nog ‘n grappie oor ‘n paddatjie wat ek ook nie hier sal herhaal nie.

Einde van storie.

Einde van stink sokkie ook.

My seunskind is die heel beste en mooiste onder die son

wat ek ooit gehad het en seker sal hê. Hy weet alles van sokkies af.

Boonop is hy lief vir my soos ek vir hom.

© Marlise Joubert, Kwana, 2003

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.