Op die oewer tussen riet

Op die oewer tussen riet

-Marlise Joubert-

Vir bykans ‘n jaar lank het ek beweeg tussen die jillende monde van laerskoolkinders.

Hulle hande soos mossies of meeue. Miskien eerder windpompe wat verwoed draai, selfs al is daar geen sweem van wind of storm nie. Hulle lyfies soos blitsige skibote bo die waterspiëeling van klipvloergange. Iedere dag, behalwe nou die naweke en skoolvakansies, word ingekleur met skoolklokke en klasgee aan honderde jeugdige blossende wange, babbelbekke, haasbekke en protesterende bekke.

En soms mis ek hulle. Op ‘n oggend soos nou, met die reën wat rokerig en grys oor die Bolandse berge hang. Met die nat tarantaaltjies wat wegkroes onder struike. Met my reënbedruipte posbusbriewe (meestal rekeninge) wat ek in die oond gesteek het om droog te word en drie ure later met ‘n donderslagonthou slegs die assies kon bymekaarskraap.

En ek wonder, met die as in my hande, of ek hoegenaamd ‘n verskil aan daai safte wangetjies se lewens gemaak het. Ten minste het hulle ‘n verskil aan myne gemaak.

Ek wou die generasie-gaping oorbrug. My moederinstink het egter elke vlot wat ek gebou het om van my groot oewer na hulle klein oewer te reis, liederlik laat sink. My kennis van blink-gepoleerde opvoedingsteoriëe, het soos halsstarrige spane in die modder bly vassteek. Dit was ‘n swaar leerproses, want om op hoge ouderdom vir die eerste keer te begin skoolhou, te praat, te kla, te skree, te smeek en te preek, sit nou nie in elke vrou se sykous nie! Inligtingsvaardighede en navorsing op die rekenaar – dit was my taak. Mediasentrum oormaak. En opbou en rek totdat dit aan alle behoeftes voldoen. Ou boeke weggee en die Rillers en Grillers en Potters aankoop. Maar tegnologie vier die bobaas, het ek gou agtergekom. En met dertien rekenaars kon ek die rustelose kinders soms besig hou en toe die fiksie eers gerekenariseerd is, kon die leesgieriges hulle Gedaantes en Geraamtes of wat ook al,  uitneem.

Ja, soms mis ek hulle. En ek was die assies en frummeltjies swartgebrande papier tussen my vingers uit. Toe lees ek weer die briefie teen die kombuismuur wat die bruinoog Carla geskryf het: “Dankie vir alles wat juffrou vir my gedoen het. Ek is baie jammer juffrou moet weggaan. Juffrou was ‘n baie lekker juffrou. Ek gaan vir juffrou mis.” Carla se tjoklits het ek al opgeëet. Dan was daar Roxanne met haar duur sjampoo en conditioner wat ook al die pad van skrop deur my hare geloop het. En die blompies het verwelk.

Het ek hulle ooit werklik geken?

Dit was eers in die laaste maand van my kortstondige leerproses as leerkrag dat ek gevoel het ek sien nou uiteindelik hoe lyk dit min of meer op daai oewer waar die jong riete van ons samelewing groei. ‘n Venster het skielik oopgegaan. Ten minste ‘n venstertjie wat telkens van kleur en taal en inhoud verander het, wat die emosionele lewe van jong gemoedere karteer. En niks het hulle soveel plesier gegee as om na afhandeling van die lesse vir ‘n paar minute voor hierdie vensters rond te dans, te gil, te skreeu, te spot of te sanik nie. Ek het eers op die walle van die rivier gestaan. Aan die oorkant staan hulle. Soos onse Antjie dit so mooi stel in ‘n vers: oewer van riet, oewer van slik, oewer van duin en stilte en sloep, oor die skouers van water, geruisloos, glip namekaar, oker serpe van sand. Maar van al die serpe Encarta-sand uit ensiklopediëe op rekenaar het die kinders versmoor, van al die sloep oor boekopvoeding  wat ek voor hulle verby stuur met Powerpoint se slideshow, het hulle later blind geword. Ek moes dit afwissel, ek moes iets anders gee sodat die moeras van leerprosesse meer motiverend kan word. Laat hulle met woorde loop oor die water, het ek gedink. Laat hulle elkeen ‘n venstertjie pret beleef aan die einde van die les. Solank hulle net lees, en al moet ek nou alle opvoedingsreëls oortree. Dit sal werk.

En so word daar skelmpies ‘n chatprogram op al die rekenaars geinstalleer.

So eenvoudig soos dit.

En juffrou onttrek haar in haar kantoor.

En juffrou sit eenkant, maar bly virtueel gekoppel aan die groot chattery. Sy spel die reëls van netiket vir chatkamers op internet uit, wetende nie almal sal nagekom word nie: geen hoofletters nie, kinders, want dis soos skree. Geen nare opmerkings oor ander nie, dis beledigend en gross. Geen vloekwoorde of grappies onder die belt nie, geen nonsens skryf nie. Skryf nou mooi dinge vir mekaar, bespreek ‘n onderwerp soos of leerders in gewone of in skoolklere moet skool toe kom. Gee mekaar komplimente! Gebruik jou eie naam, geen skuilname nie. Ons wil mos weet wie sê wat. Maar niemand het feitlik ooit geweet WIE sê WAT nie ….

Die rivier begin gloei. Die rivier maak oop en bruis. Die venster op my rekenaar rol soos skitterende strome van lig. Die generasiegaping verdwyn en voor my ontvou die emosionele wêreld van die kind. Ek skryf feitlik niks nie, ek lees, snak soms na my asem, lag uitbundig, verstom oor my onkunde, my eie jeug wat nooit die leefwêreld van vandag se kind sal ewenaar nie.

Mama short legs: Hello Vis

Noodle: Is jy daar peanut?

Zerocool: HelloCyBeRBaBe! Kom ons rave!

Vis: Hello Mama short legs. Wies jou peanut?

Tolla se shop: Raai wie ek is

Koekie: EET my ha ha ha ha ha

Nollie: why didn’t the skeleton cross the road?

Nollie: becos he did not have the guts!

Koekie: cool

Fiela se kind: Wie wil my lekker pap proe wat ek gaan maak?

Stampkarretjie: Wat ruik so sleg? Karel wat doen jy?

Susanna van Saldana: Hi Janette. Hoe gaan dit daar anderkant.

Fiela se kind: Haai Soesanna, ek maak lekker pap. Inkosi sekkelelli Afrika

Koekie: Ek is bros. Ek is ‘n chocolatchip.

Tolla se shop: Jy praat noodle. Dis die Kaapse klong met die gladde tong hiesa.

Dairy girl: ek is sexy!

Mama short legs: Vis, praat met my! Moenie stoepit wees nie!

Stampkarretjie: stampstampstamp

Moenie-die-mieliekielienie: Susanna, kom kook my mielie.

Zerocool: Daar oenner innie baai, sit ‘n groot swart kraai en skree koebaai.

Koekie: ek is ‘n lekker koekie. Eet my kraai. Flipflap.

IT-teacher: Wat is dan nou die topic in hierdie chatkamer? Julle skryf nonsens! Moenie spek skiet nie.

Koekie: flipflap. spekspeklekkerspek.

Wurm: Juffrou wanna chat!

Fiela se kind: Ons skiet met eiers. Die topic is noodle is geen noodle nie.

Koekie: Noodle is nog lewendig.

Pep: Noodle is gaar.

Kriek: probeer Diskom vir noodles, dit het beter pryse.

Tolla se shop: Koekie ek gaan jou eet!!!!!HAHAHAH.

Noodle: eet my ok! haha

Dairy girl: Jufrou, Tolla knyp my!

Pep: koop my. Low prices 4 the nation!

IT-teacher: Die klok het gelui. Exit die chatprogram!

Koekie: flipflap. Ek willie exit nie. Iemand moet my eers eet.

Wurm: Exxxxit julle morons!!!!

Fiela se kind: There seems to be no intelligent life….

Pep: baai. Jefrou is cool. Ek hou van Goosbumps.

Tolla se shop: baaibaai. My shop is toe. Sniksniksniksiehfhsszzzz!

Moenie-die-mieliekielienie: Wie da!d&##!!$ is Wurm?

Zerocool: baai. But stay with me!

Vis: baai

Nollie: baai almal

Koekie: sien jou pouse vis!

Mama short legs: dit was great! Baai!!!

Vis: User has entered state “Away”

Koekie: User has entered state “Away”

Wurm: User has entered state “Away”

Noodle: User has entered state “Away”

Zerocool: stay with me! Ooooooaaaaaa stay with me!!

IT-teacher: Exit nou!

Dairy girl: ek sal met jou bly. Ek is jou babe. Hiehie. baaaaaaiiiiiiii

Susanna van Saldana: User has entered state “Away”

Fiela se kind: User has entered state “Away”

Ek kry drukke en soene van die leerders.

Met die daaropvolgende klasse storm hulle opgewonde die mediasentrum binne: Ons wil chat, ons wil chat! ‘n Maand later is ek weg, – “away”, met kleurvolle afskeidsbriefies van kinders in my hande. En met ‘n uitdruk van hierdie venstertjie vol chat – ‘n boekmerk om my te herinner hoe dit soms kan lyk op die oorkantse oewer, oewer van jeugdige en onbesonne riet wat beur om deur al die slik groot te word.

(© Marlise Joubert. 2002)

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.