Oggendvrug

Oggendvrug

 -Marlise Joubert-

Ek het oor sy lyf gestreel. Die tekstuur van sy vel was glad soos die binnevlees van ‘n advokadopeer. Hoe lank sou ek hom hier kon hou? Ek het opgestaan, want ek was skielik  verstommend honger.

Dit was vroegoggend. Die son was nog nie op nie. Net die donkergrys van ‘n hemel en die groenvars dou op die grasperke.

In die kombuis het ek die ligte Ciabatta broodjie uit die blik gehaal. Ek het twee snye afgelem, gedink aan die ryk olyfolie wat in die deeg van die brood gemeng is. Ek het liggies die sagte margerien oor die snye gesmeer. Toe het ek die advokadopeer uit die draadmandjie opgetel, vir ‘n oomblik daarmee in my hand gestaan om die gewig van die stewige vrug te bepaal en te geniet. Ek het aan sy boude onder my hande gedink.  En ek kon my verbeel dis dieselfde gewig as dié van my borste.

Ek  sny  ‘n perfekte skyf in die peer en lig dit stadig met die vingers uit. Die liggroen vlees peul oop soos ‘n nuwe langwerpige varingblaar. Hy moet minstens vyftien jaar jonger as ek wees. Ek kon sy ma gewees het. Maar wat maak dit saak? Tye het lankal verander. Ek is alleen. Hy ook, miskien.

Ek stroop die taai skil af, sien hoe die onderkant van die skyfie ‘n donkerder olyfgroen is, met ‘n byna gerasperde voorkoms. Hier en daar die skadukol van ‘n  vlekkie.

  Ek sny nog ‘n skyf los, groter. In die middel van die advokado lê die pit, volmaak gevorm soos ‘n bruin vy.

Uit die slaapkamer hoor ek  hom roer en effens kreun.  Ek kap die sagte skywe op in dunner vlerkies, smeer dit dan in ‘n volroompasta oor die brood. Die geur van slaap en die lyf se liefdespel is skielik in my neusholtes.

Ek sny nog ‘n stukkie los en sit dit in my mond – ‘n smaak en geur wat my laat dink aan splinternuwe fluweelsagte tapyte. Of ou kastele vol mosgroen holtes. Miskien bly hy nog ‘n dag. Miskien ‘n week. Sy vriende in die karavaanpark langs die strand kan hom dalk soek. Miskien bly hy tog die hele vakansie. Hy sal weer weggaan, dit weet ek tog, en sy studies voortsit in die nuwe jaar.

Ek stap terug kamer toe met die snye brood, gebotter met die groen branders van die vrug .

Hy maak sy oë oop, skil met die een been die duvet van hom af. Hy lê ontbloot voor my, die testikels sag en donkerder soos advokadopeerpitte. Ek plaas my een hand daaroor. Hy glimlag vaak.

Ek het vir ons elkeen ‘n groen broodjie gemaak om te eet, sê ek vir hom, want ek het honger.


© Marlise Joubert. rr, 2008

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*