Die uitstappie

Die uitstappie

-Marlise Joubert-

 

Sy het haar voosgewaste japonnetjie stywer om die lyf getrek en my genooi om te sit. Sy was te moeg om koffie te maak en ek moes self inspring.

“Dat ek nog lewend in hierdie lewe is, my kind, kan ek net die Here daarvoor dank,” sê sy toe ek met die skinkbord uit die kombuis kom.  Sy kyk na die horlosie teen die muur langs haar.

“Dis al so laat,” mymer sy. “Of ek vannag aan die slaap kan kom, weet ek nie. Gelukkig het ek klaar gebad.”

Dit was nie regtig so laat nie. Pas agtuur. Ek sit die skinkbord op die ronde eetkamertafeltjie neer. Daar is ʼn glasbak vol vrugte in die middel.

 Die daklig transformeer die skilkleure van oranje, geel en ligrooi na sagte pastel. My mother comes from the days when they made paintings of beautiful fruit in silver bowls and didn’t ask for more. Dié reëls van ʼn vers kom by my op toe ek die koffie vir haar aangee.

Sy het liggies gebewe toe sy die koppie by my neem, dankie gemompel en begin vertel van die vreeslike dag wat die oues van dae te beurt geval het. Tien bejaardes, agt vroue en twee mans  (glo so stil soos muise), het met die Sentrum se kombi uitgery na Montagu toe, na ʼn plaas toe, anderkant die dorp. “Die oggend vroeg al weg, maar toe al gesukkel met die ratkas, hoor. Die jong vrou van die Sentrum het gedog alles is wel en alles het ook goed gegaan tot op die plaas hoog op tussen die berge, duskant Montagu. Soveel dinge gebeur nog op hierdie ouderdom.”

 ek luister ja ek luister. maar ma daar gebeur soveel in my lewe ook drastiese veranderinge opwindend en soms vreesaanjaend ek gaan ʼn deur in my huis oopsluit. die deur is al tien jaar lank toegesluit dis die deur na my hoofslaapkamer toe. die kamer wat ek mos uitverhuur het omdat dit ook ʼn buitedeur en stoepie het ma onthou mos?

“Die brullende trekkers het al vir ons gewag. Groot trekkers, met sleepwaentjies waar ons op bankies gesit het onder ʼn daktentjie. Lieflike dag gewees, so met die herfs en alles, my kind, en in die berge was die lug oop en helder. Die berg is hoër as Tafelberg en daar het ons afgekyk na die lang Koo-kloof. Dis nou die Koo fabrieke se omgewing, jy weet.”

“Ek ken dit nie,” sê ek en kyk rond in die kamer waar haar hele klein wêreldjie haarfyn ingepas is. Ek sien die hangkas wat sy gekoop het. Die middelste deur morsaf. Daar hang ʼn gordyn voor. Salmpienk. Soos die blomme op die duvet. Die kas was glo goedkoop omdat die deur gebreek was.  “Hoekom dan nog ʼn kas?” vra ek skielik, “hier is reeds twee ander hangkaste in die slaapkamer.”

Sy kyk gesteurd na my, haar blik is soms nog skerp. “Ek het mos baie klere. Ek het vetter geword en nou pas baie rokke nie meer nie. Maar eendag word ek weer maer en dan moet daar lap wees om te dra. My pensioen kan nie nog vir klere ook sorg nie. Luister nou verder, jy onderbreek my. Die Koo fabrieke is die blikkieskosse se plek. Baie mooi, ek het twintig damme getel daar van bo af terwyl ons ʼn glasie muskadel staan en drink het. Toe is ons weer af met die trekker, te jolig en vol pret al die babbelende oumense. Onder gekom en weggelê aan heerlike kosse, soveel wyn kon drink soos ons wou. Kase en ronde brode en vetkoek. Die een vrou het wragtag drie vetkoeke in haar handsak gedruk om huistoe te neem! Sulkes is daar ok maar, ja. Nie ék nie, nottedêm. Kry vir jou nog koffie.”

ma ek het dit mos gedoen om my patetiese inkomste aan te vul my kind beter te versorg darem meer kos op die tafel te hê en al die skuld te delg ek het toe in een van die spaarkamers ingetrek klein ja maar ek het dit mooi ingerig. die mure geverf en die dak so in sirkels verfstrepe met ʼn lap gevryf selfs ʼn patroontjie teen die een muur gestensil ek het ʼn mooi uitsig op die tuin en die wilgerboom. ma sal seker wil weet hoekom ek nou die hoofslaapkamer gaan oopsluit?

“En toe, kindjie, begin die eerste teëspoed van baie teëspoedens wat volg. Die kombi, die jong vrou van die Sentrum wat bestuur het, is toe reg daar onder ʼn boom geparkeer op ʼn hoop dooie herfsblare. Jy sak daarin weg tot amper by jou kniege. En die kombi wil toe nie daar uit nie. Die wiele gly oor die dooie blare, spat dit soos ʼn hooimied op ons klere uit. Groot gesukkel. Die mense van die plaas moes ons daaruit stoot. Vat toe die pad, nie oor Robertson terug nie, nee, die meeste wil opsluit die De Doorns pad vat. Net so effense draai voor ons terugdraai op die Worcester pad en dan af tonnel toe. En die ratkas gee weer probleme, haak toe vas in die tweede rat en wil nie roer nie! “

wel ma ek gaan die ou slaapkamer betrek omdat ek na al die jare van verskeie minnaars uiteindelik die beminde gevind het wat my voete totaal onder my kon uitslaan my hele hartkasteel laat vermurwe het. dit het eintlik so toevallig gebeur want ma weet mos ek soek lank al nie meer nie ek was mos heel gelukkig en tevrede om so allenig aan te gaan. hy is die eerste een wat ek teëkom wat so spontaan liefhet. ek het nie geweet mens kan iemand vind wat so opwindend en perfek by jou pas nie. ons gaan in die hoofslaapkamer intrek. saam. nee nog nie getroud nie en dis beter as ma nie weet nie ek vertel maar net ek wil ook graag my dae en dinge se verloop met ma deel want

“Almal begin toe pênniek oor die ratkas. Toe kla daardie vrolike tantes darem vir jou deur die nek en ore. Die een kry warm, die ander sweet, die ander se hare verwaai, die een het ʼn swak hart en nog een wil ʼn toeval onder haar plooie kry. Maar so ry ons maar, die vrou kan nie stop nie, sy durf nie weer stop nie, want dan sit ons net daar vir die nag op die pad vol rooftogte oorlat die ratte nie wil werk soos hulle moet nie. En jy weet mos hoe dit deesdae gaan met al die highjacking, mens kan glo nie eens meer op ʼn afgeleë plek in vrede selfmoord pleeg met jou tuinslang in die motor nie. Hulle kaap jou kar nes jy nou mooi sit en die gasse begin inasem.”

“Ma oorweeg tog nie selfmoord nie!”

Sy waai met die een hand, trek die japon stywer vas en sug: “Nee, hemel, hoe ken jy dan vir my? Ieder geval, ons ry tweede rat allie pad. Bid hardop dat die groen lig groen moet bly as ons so aankom. Jy  weet mos anderkant Worcester op die hoofpad is twee robotte en wragtag, die Here is ons genadig, hulle bly groen! En dis ʼn besige pad, want dis toe mos so na vieruur en almal ry, nugter weet waarheen. Eers ry die vrou van die Sentrum stadig, maar later jaag sy soos die helhond!”

die deur ma om dit oop te maak sal ʼn hewige emosionele belewenis in my ontketen ek sal waarskynlik lag of skree ek mag selfs dalk huil dis immers tien jaar gelede dat ek daar gebly het die deur maak ʼn kamer oop ʼn kamer op die lewe saam met hom. nie alleen nie maar saam dis die verskil ek is soms onseker maar ek is ook baie opgewonde. ek het myself so diep weggebêre soos ʼn ou  antieke laaikas en al wat ek almal gewys het was die meer moderne kaste in die huis minder waardevol inderdaad ek sou nie armer gewees het as ek dit sou verloor nie maklik vervangbaar ook maar die antieke ene? o dis ʼn mooi een ma ingegraveer met talle patroontjies in die oker hout sorgsaam met die binne-hand. ek het dit weggesteek en mettertyd daarvan vergeet toe kom hy in my lewe en hy begin die ou kas af te stof weer spieëlblink op te vryf en hy stal hom sommer uit ook. nou wil ek hom nie meer wegpak nie nooit meer nie want hy het hom uitgehaal doer ver van die solder af versigtig nadergesleep sy tyd geneem ja hier en daar ʼn skroefie herstel toe opgevryf met seemsleer en goue roulynolie.  kyk ma kyk hoe glans ek vir hom! sien jy dit?

 “Kind, vir wat glimlag jy so? Dis my lewe wat in gevaar was!”

Ek staan op en streel liggies oor haar hare. Ek gaan sit weer en skuif my stoel nader na haar toe.

“Hoe vinnig ry sy toe?” vra ek.

“Honderd en twintig, “ sê ma met groot oë.

“In die tweede rat?”

“Ja, in die tweede rat .” Sy trek ʼn sneesdoekie uit die boks langs haar, vee bewerig oor die rimpelvoorkop daarmee. “Ons wou voor donker terug wees in die Strand. Tant Florrie het soms bietjie gehuil in haar hoek, ek kon dit sien, ja. Grootmond Florrie. Die huil toe sowaar. O ek het vergeet, nog voor die De Doorns pad toe kry ons ʼn pap wiel. Die kombi het so plat geword aan die een kant. Ons moes stop. Sy kon nog die kombi in neutral kry. Die vrou het die wiel self omgeruil! Onder die kombi voorlangs ingekruip om daardie spaarwiel uit te haal. Daardie ou mans verroer nie eens ʼn vinger nie. Sprak geen sprook nie. Sit net strak daar, skoon verskrik en kwylende. Dis vandaar af dat sy net in tweede rat kon ry en nie weer kon stop nie.”

dit was alles so onverwags ek weet. so verpletterend dat ons reeds met die heel eerste ontmoeting geweet het van mekaar intens geweet het van ʼn band tussen ons iets vreemd byna soos die geluid van vinnige vlerke wat onmiddellik dieper in die weefsel dring jou hart by die keel wil laat uitspring. ons hande was inmekaar. nou na ʼn jaar is ons nog steeds soos asemhaling bymekaar stroom die verhouding net voort soos ʼn skuit oor die see. daarom wil ons ʼn hawe skep in die hoofslaapkamer ʼn nuwe begin vir ons. bymekaar. inmekaar. digter teenmekaar. weet ma wat dit alles vir my beteken? na al die jare van alleenwees?

“En toe, ma?”

“Ons spoed toe voort, ja, my hele lewe spoed by my verby, al die jare, van kleintyd tot nou. Dwarsdeur die tonnel gejaag. En anderkant uit, en die vrou van die Sentrum ry sommer deur die tolhek. Niks betaal nie. Buitendien, daardie meisie in die hokkie lê sowaar op haar arms en slaap, weet nie eens ons is daardeur nie. In Stellenbosch was die verkeer baie erg, weet nie hoe is ons daardeur nie. Maar al die robotte was groen. Dat die Here so vir ons die groen lig gegee het, dis net ʼn seën van bo.

“En langs my het Dollie herhaaldelik geprewel: dankie my Skepper vir nog ʼn groen lig. En net daar anderkant by Somerset-Wes, kry ons die eerste robot wat toe rooi is en die vrou van die Sentrum is verplig en slaat die remme aan. Ons ruik net rook en roet en enjin en die hele ratkas brand toe uit! Net daar by die robot. Ons almal uit, holderste bolder, te bang die hele kombi brand uit. Die vrou het toe gaan bel sodat ander mense ons kom haal. Ons staan daar, my kind, bedremmeld in die donkerte, ʼn groepie verlate bewende skape asof die herder ons verlaat het. Ek en ʼn paar ander klim in die een bakkie van die Sentrum en terwyl die derde vrou inklim, Bettie, ja, ek dink dit was Bettie, toe beweeg die bakkie agteruit en die arme vrou slat regagteroor op haar rug. Sowat van verskrikte gesig het ek nog nooit gesien nie! Die drywer maak verskoning, spring uit en help haar op. Sy handbriek werk nie so goed nie, sê hy toe. Uiteindelik is ons almal afgelaai, maar netnou nog bel Stienie my en vertel dat Bettie glo haar ringe verloor het en dat die vrou van die Sentrum later nog gery het na die plek waar sy geval het en daar rondgesoek het met toortse. Sowaar die diamantringe gekry ook!”

“Verstommend,” fluister ek naby haar.

“As die Here nie die robots op groen gehou het met Sy hande nie, dan weet ek nie wat ons nog sou moes deurmaak nie.”

Ek kyk af na my hande. “Gelukkig was julle in ʼn groep, ma. En mense sou gehelp het, dink ek, waar julle ook al die rooi robot sou aantref.” Ek begin die ring aan my vinger stadig in die rondte draai, kyk weer na die mooi ovaal van die ligblou steen in die goue band.

ma ek het verloof geraak. gister onder ʼn prieel vol donker blare ʼn sagte hekelpatroon van lig en skadu oor sy mooi gesig. as ons eers in die hoofslaapkamer ingetrek het sal ons trou. ek het hom liefgekry met hom is alle robotte altyd groen maar ek sal jou later vertel want jou dag was vol vrees en skokke en jy moet rus 

Ma sug diep en staan moeisaam op: “Die trekkerrit was darem lekker. Kindjie, gaan kyk in die kombuis. Daar is ʼn bottel muskadel en ʼn sakkie druiwe vir jou.  En in my sak op die bed, is ʼn perskerol. Gee dit vir my kleinkind.”

Ek maak gou ʼn warmwatersak vir ma se kooi en skud die kussings reg. Ek gooi ʼn slaappil uit die botteltjie langs haar bed in die palm van my hand en gee dit vir haar met ʼn glas water om te drink. Sy druk my vas en soen my op die wang. “Dankie dat jy gekom het en ry versigtig terug,” sê sy. Ek ruik soet vrugteskil en fruktose aan haar lyf.

Elke robot wat ek teëkom is droomgroen, tot waar ek indraai na die buurt. By die huis sit ek my handsak op die eetkamertafel neer.

Ek kyk na die silwer vrugtebak in die middel van die tafel. Daar is niks in nie. Nie soos ma se bak met afwisselende kleure van ryp vrugte nie – geel, oranjerooi, of getransformeer na sagte pastel, afhangende van die weerkaatsings van lig, die uur van die dag.

My mother comes from the days when they made paintings of beautiful fruit in silver bowls, dink ek weer…...and didn’t ask for more.

 En dit tref my skielik dat ek die muskadel, die druiwe en perskerol vergeet het. Ek huiwer ʼn oomblik lank.  Kyk weer na die ronde silwer leegte in die bak.

Dan tel ek my handsak op en ry terug om haar geskenk te gaan haal.

© Marlise Joubert, rr, 2009

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.