Die kinkel in die kolon

Die kinkel in die kolon

-Marlise Joubert-

Die kolon is beslis nou nie ’n deel van ons anatomie wat ‘n digter sommer sal gaande maak nie! Maar toe ek na ’n sonarfoto kyk van my eie kolonoskopie, en die ligpienk voue sien wat al hoe sagter wegdraai in ’n geheimskunnige tonnel in, het ek so byna liries geraak daaroor. Boonop was die chirurg  van mening dat vir ’n sestigplusser lyk my kolon soos die van ’n vrou van veertig. Ek kry sommer konsentriese rillings van vreugde oor die chirurg se opmerking en wonder of daar nie dalk ook ’n skoonheidskompetisie is vir die mooiste kolon sonder kinkels vir vroue bo sestig is nie? En as daar ’n goeie prysgeld met ’n goue kolonkroon op jou kop sal rus, plus ’n reis na Italië toe, sal almal gou vergeet van die verleentheid om hierdie sonar vir keuring en beoordeling deur te gaan.

Waar was die probleem dan nou eintlik dokter, wou ek weet.

Hy sit ‘n fyn mesvinger op die foto en wys na ’n kleinerige plooiglimlaggie in die satynvoue. En daar sit jou diverticulitis, sê hy. Die einste monstertjie wat akute pyne in my ingewande veroorsaak het. Net die één outjie. Gelukkig nie meer nie. Maar vir vier dae moes ek in die hospitaal lê, met nil per mond. Binneaarse voeding en drups vol antibiotika om hierdie pynlike blaasoppie die aftog te  laat blaas. Op die derde dag fnuik ek die verpleegsters met hulle vorms en koorspenne en gaan sit op ’n klein stoepie om te rook. En dis hier waar ek vir ou Lenie met die blou satynjapon ontmoet.

Sy is in vir longontsteking.

Soggens vroeg as die son pas sy kop uitgesteek het, wandel ons twee met piepende drups en rookgoedjies al om die eendedam by die hospitaal. Hadidas skree verby ons ore. En ons praat sommer ’n paar eende uit die water uit. Ons insigte is enorm. Ons wysheid ken geen perke nie. Ons is albei vroue bo sestig, die een wit met skaappantoffels, die ander bruin met haaspantoffels. Ons staar albei verskrik die verwering van ouderdom in. Daardie grynslaggende gevreetjie met die skerp tandjies wat so kan knaag waar jy eintlik nie geknaag wil word nie.

Ja, die verweerskrif is aan die muur. Antjie het die roete mos uitvoerig aangedui. Ons erodeer, Lenie, sê ek.

Ja, mevrou, die lewe se jare vat so bietjie aan onse lywe. Hy het my al byna weggevat laaste maal, sê sy al proesende. Dis al die derde keer in die hospitaal vir my.

Vir jou longe? vra ek. Eintste hy, ja. Die een long is nog orraait, maar die ander ene, ai,  is nou net ’n halwe long. Lenie! roep ek geskok uit, en dan rook jy nog steeds met daai halwe long!? Dis dan nou al pension plesiertjie in die lewe vir my, sê sy en lyk skielik treurig.

Dalk sien ons mekaar dan weer oor ‘n paar maande. My kinkel kan dalk terugkerend wees, haar halwe long sal beslis weer gepamper moet word. Ons smee ’n hegte vriendskap. Ontdek dat sy in dieselfde universiteitskoshuis waar my dogter was, gewerk het. Lang trane gehuil het as die jaar om is en hulle vir haar kaartjies en geskenkies aandra om dankie te sê. Hulle was soos haar kindertjies, vertel sy.

Tuis herstel ek stadiger as wat ek gedink het. Ek verloor vyf kilogram. Eet versigtig. Geliefde meeloper kloek en bederf my. Ek begin weer die waterverfkwasse op te neem. Verf  mettertyd verwoed. Vergewe later die ou dokters wat my so rond en bont gestuur het. Van huisdokter wat soos ’n dierbare teddiebeer lyk, na die jong uroloog wat talle x-strale laat neem het, na die vaderlike ginokoloog wat niks fout vind nie maar tog wonder oor die dikderm en weer terug na teddie toe. Wat toe vermoed dit is ’n niersteen in die lies. En toe weer terug na die uroloog. Uiteindelik direk daarna  chirurg toe waar ek soos ’n omgedopte vraagteken van pyn sy spreekkamers met Potchie-blombeddings instrompel. En hy genadiglik sy sensitiewe vingers op die probleem kon sit en my dadelik hospitaal toe stuur.

Ek verf alles wat voorkom. My jeug, my geliefdes, die see en rotse by Hermanus, die huisies op Paternoster, landskappe vol wingerdson en berge, koeie en vrugte en glase en bottels vol wyn. Fytjie se huis en Gogo se bok. Want ek is dankbaar, só dankbaar dat die bokvelde my nie gevat het nie. Ek verf verwoed teen die ouderdom in. Waterverf is visuele poësie, inderdaad. En na ’n maand voel ek emosioneel en lyflik weer so op koers dat iets soos akute diverticulitis eerder klink na ’n woord wat iemand eenkeer in sy geblomde spreekkamer uitgedroom het.

Ek verf kriptogramme van die ou Amerikaanse Indiane uit die boek Technicians of the Sacred. Daarna, vloei die water oor na ’n groen en blou x-straal foto van ’n rugstring met weerskante twee bonsende silwer niere.

En toe skielik, byna noodgedwonge, verf ek ook ’n sonarfoto van ’n kolon in sagte vleespienk kleure wat wegtonnel na liggewende ruimtes van ’n langer en hopelik ’n beter gesondheid toe.

’n Mens kan dus wel dig oor ’n kolon, besluit ek.

Al is dit dan net met die kwas.

(© marlise joubert, rr, 2006)

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.