Tussen stokroei en Pims weer tuis

Tussen stokroei en Pims weer tuis

-Marlise Joubert-

Dis begin-somer. En niks kan my of die somer stuit nie.

Met voosgetrapte leersandale bevind ek my na ‘n reis deur vele stede van die Lae Lande, skielik op ‘n rivier in die middel van Oxford, daardie ou Engelse stad propvol oker klip-kolleges, uitgebeitelde toringkies, dawerende klokke en kore in kapelletjies en ja, die gargoyles wat immerglimlaggend of ernstig alles benede gadeslaan. Ek bevind my in die stad waar my dogter, Marcelle, studeer, waar baie akademici diep spore getrap het, waar skrywers soos Tolkien en Lewis hulle verhale uitgedroom het, hetsy in kroegies met swaar en donker houtbalke of in meadows en commons onder die draaikolke van spookagtige langarmbome.

Die rivier wat deur stad en lower vloei word die Cherwell genoem. Maar name beteken soms minder vir my. Raak dikwels vergete. Dis wat gebeur op of binne daardie name wat belangriker is. En op dié stil rivier bevind ek my onverwags op ‘n dag, in ‘n geel skuit, langwerpig en vierkantig aan die eindpunte, en laag, so laag dat my vingers moeiteloos oor die rand deur die mosgroen water soos wilgerlote sleep. Presies soos romantiese stories uit agttiende eeuse dagboeke sal vertel: op ‘n loom Sondagmiddag met die bome vol blou klanke van voëls, die lug se grys reënwolke skielik oopgeskuif om die warmte en wasige lig van Turner se somerson in te laat.

Van al die lieflike en oorweldigende plekke wat ek toe reeds besoek het, was hierdie eenvoudige belewenis op ‘n skuit toe juis die één reistog wat my geheel en al tuis laat voel het op vreemde bodem, wat ek kon koester in my geheue, waarna ek kon terugkeer asof dit ‘n ruspunt was tussen vele omswerwinge deur waarvan die besonderhede en detail gou in nuwe tydgleuwe vervaag.

Want sien, ek kon toe mos net sit, soos ‘n ou bedorwe middeleeuse duchess uit die Blenheim paleis kon ek uitgestrek sit. Laag op die bankie se plastiekkussing en alles om my beloer. Nie steunend en klaekouserig rondloop totdat my voete kramp nie, nie met moltreine of rooi busse en trams frustrerend rondskommel om by alles wat besienswaardig is uit te kom nie, nee, ek kon net ladylike met kruisbene gestoelte gee aan emosies wat saam met die water vloei, onder blaredosse van alle denkbare kleure en skadupatrone deur, langs oewers waar bont eende of marmerwit swane sierlik en speels of doelgerig swem. En dit terwyl die manne die skuit met ‘n lang stok stuur. Byna geluidloos. Met soms die stamp dof teen die bodem vas en die droomklank van druppels wat spat teen hout. Punting  noem Marcelle en haar kêrel, Robert, dit. Want hulle is mos reeds ingeburger in die Engelse milieu. Maar ek noem dit sommer stokroei.

My geliefde probeer dapper die kuns bemeester, maar ons vaart word gevaarlik-opwindend as hy in ‘n sig-sag patroon van wal tot wal slinger. As ons gillend tussen oorhangtakke verstrengel raak. En natuurlik nog prettiger toe hy ‘n paar ander roeiers se skuite hardhandig tref. Stokroei is nie maklik nie. En almal vergewe hom. Hy bly steeds die Duke en bruidegom van hierdie duchess in haar bootjie deur ‘n raggroen Constable-landskap. Ten minste het hy nie in die water beland met stok en al soos ander nie.

Later rus ons teen die oewer, stok geanker om die skuit vas te hou. Nie dat ék juis enige rus nodig had nie! Meisiekind skink vir ons Pims in elegante glase – ‘n Engelse somerdrankie waarin stukkies komkommer en suurlemoen, rooi aarbeie en kruisement dryf. Verfrissender as enige vonkelwyn. Haar kêrel neem weer oor en die terugtog begin langsaam onder sy behendige slag met die stok. En sy, wat eenkeer so lank gelede in my huis haar kinderrympies kon uitsing om elke hoek en draai, raap haar kitaar op en sing vir ons, rustig en melankolies, welluidend en helder –  ‘n liedjie wat sy self geskryf en getoonset het. Hier, op ‘n nog ouer Engelse rivier:

lank lank gelede

in my bantamland

het die koning geval

en die hekse gebrand

lank lank gelede

het die son vergaan

die see het verdamp

tot stof op die maan

onverklaarbaar

het die wind verdwyn

en grysklip kloosters

het uit die grond verskyn…

Die stok gly ritmies in die donker water weg, druk teen die bodem vas, stoot die skuit tree vir tree saam met kitaarklanke vorentoe. Ons reis onder halfmaan-bruggies deur. Vaagweg hoor ek nog die stemme van groepies studente en  toeriste wat verbyvaar, flardes van sinne in Frans, Duits, Engels en Nederlands. Dalk Pools of Russies. Hulle kyk verbaas na haar, hulle lag en wonder in watter taal sing sy. Ons glimlag terug. En ek weet dis die heel mooiste taal. Want elke woord laat my tuiskom. Te midde van stokroei en Pims, het die woorde van ‘n Afrikaanse lied my hele hart op ‘n onbekende bodem kom vat en die middag op ‘n rivier vir altyd my stukkie suidpunt van Afrika gemaak.

En ek weet ook, dit sal nie vervaag nie.

Dit sal behoue bly, asof uit oker klip gebeitel,  solank as wat ek leef.

© mj. {Agterstoep rubriek, rr, 2009}

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*