Die gekneusde ster

Die gekneusde ster

-Marlise Joubert-

            Skuins oorkant my het die groot vrou op haar wit bed gelê.

         Die gordyne was oopgetrek en ek kon haar gesig nou beter sien. Effens opgehewe, haar oë toe.   Ek het gewonder of sy nog slaap of miskien net sommer lê, steeds half weggesink onder die newels van narkose.  Binnekort is ek ook aan die beurt. En ek is bang. ʼn Mens weet nooit of jy lewend anderkant uitkom nie.

          Vroegoggend was die narkotiseur al hier. Toe was ek nog vrolik en dapper, het selfs kon skerts en die man gevra om tog die mooi chirurg dop te hou sodat hy nou nie my niere ook verwyder nie. Dis erg genoeg dat hulle gaan rondkrap in my sensitiewe ingewande. Maar toe kom die verpleegsters later en hulle toets veelvuldige dinge. Alle parameters word gemeet. Bloeddruk. ʼn Koorspen onder die tong. Die pols. Vul vorms in en vra hulle roetine-vragies. Doen selfs ʼn EKG op my.

          Vir wat al hierdie stiekers op my? vra ek toe.

          Dokter se orders.

          Is iets verkeerd?

          Nee, alles lyk orraait. Rook mevrou?

          Ja, natuurlik.

          Hoeveel?

          Tien. Soms twintig. Hang af van die stresvlakke, antwoord ek. En as my man my vies maak of as ons die hele nag seks gehad het, rook ek sommer dertig.

          Geskokte stilte, simpatieke kyke.

         Ek wag en wag, asem die rookvrye lug van lugversorgers in, staar na die salmpienk mure. ʼn Mooi saaltjie, vier beddens, elk afgeskort met gordyne en bedkassies en selfs ʼn spieëlkas. Myne het die balkonnetjie. Ek kan dus uitkyk op die tuin. Daar is bloedrooi kannas en ʼn enkele lig-oranje roos – sag en weerloos in die son.

        Net ek en die ander vrou. Die groot vrou. ʼn Vlesige massiewe berg wat hoorbaar asemhaal. Sy slaap seker.

         Ek is bang. As sy net kan wakker word, dan kan ek immers met haar gesels totdat hulle my kom haal. Ek kan die sinnelose vrese verdryf, as ek net met haar kan gesels.

          Weer ʼn verpleegster. Wat nou al weer? Mevrou se naels, sê sy. Ons moet dit afhaal – ál die paint.

          Ek kyk na my naels. Hulle is blou. My man hou van die helder blou. En ja, dis mooi. Ek hou self daarvan, meer as van die groen of pers.

           Nee, sê ek vir haar, tog nie my naellak ook nie? Ek het dit gisteraand nog so mooi geverf vir die operasietafel. Mens weet mos nooit waarna hierdie dokters alles kyk en oor praat terwyl jy soos ʼn zombie daar lê nie.  Al die juwele is nou af en hierdie naels is mos nie in die pad nie.

          Mevrou, die naels moet skoon wees en sy begin met ʼn watte gedoop in asetoon die kleur afvryf.

          Mevrou, dis sodat ons kan sien as hulle gaan blou word, babbel sy verder. Hulle moet mos mooi vleispienk lyk.

          En as hulle blou word? vra ek benoud. O, dan is daar mos probleme met die hart en moet ons mevrou help, sê sy. En wat van die toonnaels? vra ek en kyk na haar skoon wit hande wat meganies heen en weer beweeg oor al die naels. Kyk, my toonnaels is silwer geverf. En ek dra ʼn toonringetjie ook.

          Ai, mevrou, roep sy uit en klik haar tong, die ring moet af, maar die toonverf kan maar bly. Ons kyk net vir die naels.

          Toe die verpleegster uit is, hoor ek die vrou roer en sug. Ek wil na haar roep. Ek wil haar vertel dat my man gek is oor my tone. Dat hy vir my ʼn toonring gekoop het op my vier-en-veertigste verjaarsdag. Die ringetjie is van goud met klein silwer sterretjies in. So klein dat jy die vorm daarvan nie kan uitmaak nie, net die skitterende fletsies van silwer kan waarneem in die lig.

          Asof die vrou my gedagtes kon lees, sit sy skielik regop.

          Weet jy, ek het nou net gedroom van daardie kersboom by ons huis, sê sy stadig in ʼn diep basstem. Dit was blou en die kersballetjies het helder geglinster. Buite het ʼn groot puntige ster gehang wat ons elke jaar van die solder afgehaal het. Dis ʼn Herrnhutterster, wat ʼn baie lang tradisie in my familie is.

          Ek staar verslae na die Nederlandse vrou toe sy skielik weer ophou praat en lankuit sug. Sy kyk na my, maar sien sy my wel? Haar oë is groot en wasig, daar is donker kringe wat soos blou krytmerke die onderste ooglede van haar wange skei.

          Waarom onthou jy dit alles? vra ek saggies. Het jy gedroom? Voel jy okay?

          Ek onthou alles so helder asof dit gister was, antwoord sy en lê weer agteroor. Sy draai stadig om op haar sy. Sy stut haar hand teen haar kop en kyk na my. Of miskien kyk sy langs my verby, na die tuin met die donkergroen welige blare, die rooi van die kannas of die lig-oranje van die enkele roosboom.

          Lank gelede, sê sy hortend en afgemete, in my geboortehuis, het so ster gehang, een van papier, voor in die huis, teen die venster. My moeder het die ster aanmekaar gesit, die puntjies met pennetjies aan mekaar geheg, versigtig-versigtig, punt vir puntjie met die hoekies aan mekaar, totdat die hele veelpuntige ster langsamerhand sy vorm begin aanneem het. En binne in die ster het sy ʼn liggie gehang sodat dit soos ʼn lampie opgehang kon word.

          Die lampiester kon tien weke aanmekaar skyn, weet jy. Dit was lank gelede, sug sy.

          Sy bly stil. Vir ʼn oomblik is haar oë toe.

        En toe? vra ek gou. Ek wil skielik meer van die groot vrou weet. Alles van haar af weet. Voordat hulle my kom haal, en voordat sy weer wegsink in haar narkotiese koma.

          En toe? vra ek weer, harder. Ek bedoel, wat beteken dit alles?

         Nee, dit beteken maar net dat ek dit onthou en dat ons ook so ster van papier gehad het, maar dit het later uitmekaar begin val van al die montering en oor en oor geplakkery om dit weer nuut te heg. Dit het nie gehou nie. Twee jaar gelede was ek in Zeist, waar ek tot my vreugde ʼn groot ster van plastiek sien hang het bo die winkeltjie van die Herrnhutters. Dadelik gekoop om buite op te hang. Want dié een sou nie uitmekaarval nie…..en volgende jaar…

        Haar oë val toe. Sy het opgehou met praat. Sy is weg. Asof die dood haar woorde gesteel het. Sy haal diep asem. Ek raak paniekbevange. Hierdie vrou kom van Nederland af, maar wat maak sy hier? Woon sy hier? Hoe lank al? Moet sy weer teruggaan? Waar is haar familie?

          Kom. Draai op die sy, sê die verpleegster skielik langs my.

          Hemel, hoekom? Wat het jy daar? Ek dog julle is nou klaar met my, sê ek. Julle vat my ringe, my armbande, my hangertjies, my voetkettinkies, en boonop al my blou naels ook. Goddank ek het nie vals tande nie! Julle…

          Mevrou, ek moet ʼn enema gee, sê sy.

          Nee! skree ek. Tog nie dit ook nog nie! Dis mos nie nodig nie?

          Ja, mevrou. Sjuut, nie so hard praat nie! Kom nou. Draai op mevrou se sy.

        Bleddie vernederend, dink ek en draai stadig om op my sy. Soos ʼn skaap wat kaal geskeer word en in die koue sneeuvelde ingejaag word met net die weerlose rosige velletjie om sy laaste bietjie trots te beskerm. Of soos ʼn ster van Betlehem wat mettertyd al sy kleur verloor, uitmekaarval, disintegreer…

          Ek lê op die bed plat op my rug. My maag voel opgepomp soos ʼn wiel wat wil bars. Ek wag geduldig vir die eerste tekens. Niks gebeur nie. Ek wag en luister of die vrou nie weer wil praat nie.

          Dan roep die natuur. Ek vlieg op en nael na die badkamertjie toe. Goddank vir die flat tire in my ingewande, sug ek en klim weer op die chroombed. Die vrou steun – sy is dus nou weer wakker. Miskien het ek te veel lawaai.

          Mevrou, vertel my weer van die Herrnhutters. Of van Zeist. Wat kan jy onthou?

          Ek onthou alles, sê die vrou en stut haarself effens teen die kussings.

        Sy vertel van Kersfees en Pase wat musikale hoogtepunte was, van haar vader wat dan die hobo speel op die balkon van die kerkie en haar moeder wat in die koor sing. Sy is agt jaar oud en hulle ry deur ʼn koue nag na die kerkie toe in ʼn splinternuwe motortjie. Dis aand en sy voel haar vader se opwinding want hy moet ʼn aria speel. Die winkelstraat in Zeist is feestelik verlig en voor die Slot aan die einde van die laan staan ʼn enorme Kersfeesboom.

          Die kerkie van die Herrnhutters is teenaan die Zusterplein, vertel sy. Hulle gaan eers na die huis van die koster op Broederplein. Haar vader verdwyn die kerk in en hulle wag totdat die klokke begin lui. Donker groepies mense skuifel oor die sneeu na die helderverligte ingang van die kerkie. Binne is dit heerlik warm. Daar was twee groot Duitse teëlkaggels, gloeiend. In die houtbankies links skuif die vrouens in met blou en rosige kantkappies. Aan die ander kant sit die mans. Sy mag by haar moeder sit. Haar moeder en die kerk – dit is ʼn woordkombinasie wat altyd die geur van Eau de Cologne 4711 van Boldoot en van pepermentjies oproep. Sy hoor hoe haar moeder fluister dat sy stil moet sit en sy voel veilig in die skadu van haar gesig wat soos ʼn engel toegeeflik oor haar buig.

          Daar is ʼn groot orkes in die middel van die kerk, voor die preekstoel. ʼn Groot koor by die orrelpype. Haar  pa staan op, sluip saggies weg na ʼn plekkie agter die enorme Kersboom in die hoek van die wit Herrnhutterkerkie en vandaar af klink die  Engelse hoorn op  –  ʼn vreemde  instrument met ʼn krom blaaspypie en ʼn mooi bolbeker aan die onderkant. En sedertdien word sy altyd diep ontroer as sy so ʼn instrument hoor.

          Sy hou weer op met praat. Raak aan die slaap. Sy is uitgeput, dink ek. Sy moet nog lank hier bly om te herstel. Miskien nog operasies kry. Sy moet rus.

          Ek kyk verbaas op toe die verpleegsters ʼn ander bed tot langs myne stoot en sê ek moet oorklim – dis nou saal toe met my.

          Die warmte van die vrou se herinneringe hang om my, word mettertyd uitgeskuif, raak stuk vir stuk verlore terwyl ek deur die hospitaalgange gewiel word op ʼn piepende wit bed tot in die operasiesaal.

          Die narkotiseur vind ʼn geskikte aar en druk die naald in my hand in. Ek gril daarvan. My boud sou mos beter gewees het. Kyk, sê ek vir hom, sê vir daai dokter van my ek wil net die facelift hê, hy moenie die eierstokke ook verwyder nie.  Hy lag hardop en sê niks nie. Die verpleegster se oë rek en sy roep verbaas: kry mevrou dan ʼn facelift vandag?

       Ja, sê ek vir haar, maar nou nie buite-op nie, net binne, jy weet. My dokter sal verstaan.

          Hulle sit ʼn plastiekmasker oor my neus en sê ek moet diep asemhaal. Ek lyk sekerlik nou soos Babe, dink ek, soos sy sou gelyk het met ʼn glassnoet.

          Ek kyk op na die reuse waskom van die teaterlig bokant my kop wat skitterwit gloei op die tafel van operatiewe aksies. Dit skyn helder en verblindend in my oë, soos die Herrnhutterster, troos ek myself, terwyl ek diep asemhaal. Soos ʼn ster, soos ʼn grootse ster.

          Ek droom van ʼn vrou wat Nederlands met my praat. Sy sit langs my op ʼn bed. Sy hou my hand vas en sê:  ‘s Morgens rijd ik naar mijn werk met vlammende luchten aan mijn rechterhand. Een kogelronde zon staat vuurrood achter de houtwallen, die als pikzwarte knipsels tegen het rood afsteken. De lucht is ijsblauw, helder en koud. Vaak trekken de ganzen snaterend in v-formaties voorbij. Condensstrepen van vliegtuigen herinneren me aan Helsinki en aan Kaapstad. De suikerfabrieken werken op volle toeren, in de hoop dat ze voor de kerst alle voorraden hebben verwerkt.
De stad ligt de hele dag onder een laag, gouden licht. Witte stoompluimen staan boven de daken. Aan het eind van de gang op kantoor is een raam dat uitzicht biedt over de stad. Rechts ligt hoog boven de zee van daken de trotse A-kerk met zijn baroktoren met gele biezen, een geluk om naar te kijken.

 

          Ek word wakker en fluister die laaste sin van haar vertelling: een geluk om naar te kijken. Ek draai my kop na links en sien die tuin met die rooi kannas en die oranje roos. Ek is terug, dis verby, dink ek lomerig. Ek kyk na regs en sien my geliefde.  Hy sit langs my op die bed en hou my hand styf vas.

          Jy is wakker, sê hy sag en glimlag.

          My tone kry koud, sê ek lomerig.

          Hy stap om die bed en begin my tone een vir een te suig. Ek voel die warmte van sy klam tong oor die vliesies en rondinge beweeg. Hy vou my voete versigtig toe onder die beddegoed.

          Dan onthou ek die groot vrou. Ek kyk na haar bed. Sy is nie daar nie. Die bed so spierwit en netjies opgemaak.

          Waar is die vrou dan? vra ek ontsteld en probeer regop sit. ʼn Brandpyn skiet  deur my maag.

          Watter vrou? vra hy verbaas, kyk rond en druk my weer saggies terug teen die kussings.

          Die vrou wat op daai bed gelê het!

          Hy kom sit weer langs my. Jy het seker gedroom – narkose maak mens maar so deurmekaar, sê hy. Moenie huil nie, kyk, ek het vir jou wit rose gebring.

© marlise joubert. 2011

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*