Koninkie in ons tuin

Koninkie in ons tuin

-Marlise Joubert-


Ek vermoed dit in die afgewaterde kleure van die lug, die voue van stiltes tussen die Bolandse berge. Die hitte van ʼn someraand wat die dakke laat kraak en krimp en in die tuine wat roep na reën.  Ek vermoed dit in die laaste rooi snawels van aarbeie langs die wingerdland wat mettertyd sal plek maak vir ʼn sagte hand vol herfs.

Enige tyd, van nou af sal Pietjan terugkom.

Soos die liefde terugkeer met herhaling, in watter gedaante ook al, so sal Pietjan altyd terugkom met sy flappende stert, sy bekkie karmosyn – al swiepende en vrolik met ʼn vaartbelynde lyfie.

Louis, my ‘geveerde’ eggenoot en meeloper, se studeerkamer sal die mikpunt en eindpunt van sy lang reis wees. Hy sal weer priesterlik voor sy geliefde spieëltjie aan die buitekant van die venster gaan sit op die draadhanger wat Louis daar aangeknoop het vir sy vryery. O hy sal sy spieëlbeeld met hoë geskal verwelkom, sy moëe vlerke uitskud en sy fyn taalkonstruksies ure aaneen teen die ruite aanfluit.

Sy klein kraalogies sal om die spieëltjie se rand na binne loer, en iets van die bekende figure wat hom dophou verstaan. Hy sal weer na sy geliefde klaviermusiek kan luister. Saam die note soos lang silwer kettinkies uit sy keel laat gorrel. En dan sal hy die hopie saad onder die sierwingerd gaan soek. Hy sal moeg wees, bittermoeg, want hy het ver en lank gereis.

Pietjan is ons koningrooibekkie wat besluit het hierdie huis, hierdie egpaar en hierdie deurmekaartuin waar ʼn wilgerboom, rankers en sierwingerd ineengestrengel loop is die beste en enigste habitat vir hom. Hier wil hy koning van die werf wees. Dis geen opgemaakte storie dié nie. Kom kyk maar self. Vir maande aaneen woon hy tussen die katedrale van knoetserige takke, sing en pik hy aan die spieëltjie en luister alte graag met ʼn skewe koppie na sy geliefde klaviermusiek van Chopin en Schumann. Vlieg dan kort-kort soos ʼn blink straler op die ander gevogeltes af na die vloersaad op die stoep en verwilder almal summier. Die duiwe sal ente wegvlug. En vinke, mossies, wewers en glasogies gee vinnig pad as Pietjan aangejet kom. Pietjan het eerstereg op die koningsmaal. Elke ander geveerde swernoot verjaag hy met mening. Hy het selfs gewaag om die tarentale eenkeer te bestorm, en toe hulle ongestoord aangaan om pitte op te pik, het hy vieserig op ʼn takkie bokant hulle gaan sit en hulle dopgehou. Of dalk om hulle te irriteer. Mens weet ook mos nie aldag wat hy hulle alles met vogelvloeke sou toesnou nie.

Soos die somer verdiep word Pietjan se saadvretersnaweltjie al hoe rooier, die wit pens steek al hoe meer af teen sy swart koppie en rug. Hy word kordaat en spoggerig in sy manelpakkie. Hy koggel onophoudelik. Hamer al hoe harder op die koorsige klaviertjie in sy keel.

Ons is verlief vir Pietjan. En hy op ons. Maar einde Oktober verdwyn Pietjan soos ʼn groot speld. Ons vermoed hy reis die binneland in. Ons weet nie regtig nie. Maar dan gaan soek hy natuurlik ʼn wyfie om amoreuse vlerkpassies bokant haar uit te voer. Ons gun hom dit van harte. Hy sal, soos gebruiklik glo,  intiem saamsweer met die wyfie om hulle eiertjies in die neste van  rooibeksysies te gaan lê. Soms by klopkloppies, frette en langstertjies. Rooibekwyfie sal ewe parmantig ook een sysie-eier verwyder om plek te maak vir haar eie broeisel! Die kuikentjies word dan sommer so saam met die klein sysies grootgemaak. Miskien ʼn lekker veelrassige onderdak vir almal?

Ons koninkie bly vir etlike maande weg. Die spieël word dof, die blare begin verlep in die somerhitte. Ons begin na Pietjan te verlang, soos mens na liefde kan verlang. Ons mis sy geselse teen die ruit, sy swiepende klein lyfie tussen die takke deur, sy dominerende houvas op die saad.

Louis het hierdie mooi gedig oor onse Pietjan geskryf na die eerste verdwyning:

Spieëlmaats

Telkens die koningrooibekkie

se geflitter voor jou studeerkamerruit –

die elegante getjirp waarmee hy

sy trae refleksie buitentoe roep. En jy

plaas ʼn spieël teen die glas vir hom,

met ʼn voetstuk van draad daarby

om knus-intiem in skerper fokus

by ʼn spieëlmaat die dae kop-in-mus

te verbly. Maar vanoggend is daar

net ʼn mossie se dom geboggel

by jou ruit: op en af, ure aaneen, op

en af, spring, spring, die waggelende

potsierlikheid. Om jou liefbekkie

waarskynlik elders heen

te verwilder.

Dan kom hy terug, na al die omswerwinge. Altyd weer alleen. Hy het sekerlik nog nie die regte wyfie raakgeloop nie, dink ons dan. Anders sou hy haar mos saamgebring het? Dit neem etlike weke voordat hy herstel. Geleidelik word die bekkie weer aarbeirooi, begin die stert langer groei. Word sy kleure vlymskerp en patrolleer hy sy gebied met kwetterende passie.

Ek wonder of die Franse komponis, Messiaen, wat ʼn lewenslange fassinasie gehad het met voëlgeluide en dit in sy musiek verwerk het [soos Réveil des oiseaux], miskien, net miskien ook van die koningrooibekkie se mooi keelklanke sou kennis neem? Messiaen troos… In my hours of gloom, when I am suddenly aware of my own futility . . . what is left to me, but to seek out the true, lost face of music somewhere off in the forest, in the fields, in the mountains or on the seashore, among the birds.” 

En miskien is dit ook wat die liefde is, iets soos die verlore gesig van musiek, iewers in ʼn tuin waar ʼn koningrooibekkie hom wil tuismaak. Wat jy na kan luister. En verwelkom.

(Agterstoep, rr, 2.2011)

This entry was posted in Kortverhale and tagged . Bookmark the permalink.

One Response to Koninkie in ons tuin

  1. Stefan says:

    Lekker gelees hieraan, Marlise! Die eerste paragraaf is besonder mooi vir my.
    Ek sien daar is ook ‘n skildery hier oor PietJan! Gegroet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*